Volgens Bargmann is dit noodsaaklik om die geskiedenis van plekke, die mense wat in die ruimtes woon en werk en die verwantskap tussen die gemeenskap en die area te erken. Die omgewings- en tegnologiese elemente hou verband met haar fokus op landskapsontwikkeling en ondersoek na ekotegnologie. Ekotegnologie is ’n veld van toegepaste wetenskap wat evalueer hoe die behoeftes van individue en gemeenskappe met die minste moontlike omgewingsimpak bevredig kan word. Ekotegnologie word dikwels gebruik deur die natuur se eie krag vir produksie en konstruksie te benut. Bargmann se D.I.R.T.- navorsingsprojek fokus op die ondersoek en implementering van ekotegnologieë, aangesien sy passievol is oor die bewaring van die omgewing en om die negatiewe impak wat stedelike landskapsontwerp kan hê, te verminder.
Julie Bargmann
Om die navorsing prakties toe te pas, het sy in 1992 die Dump It Right There of D.I.R.T.-ateljee begin – ’n klein ontwerpateljee wat op die samesmelting tussen haar ontwerpnavorsing en praktiese toepassing fokus. Die rede vir die bestaan van die D.I.R.T.-ateljee word duidelik op die ateljee se webwerf uitgespel:
Ons is omring deur puin wat deur twee eeue se industrieë agtergelaat is. Myne en fabrieke hou onverbiddelik aan om grondstowwe en produkte deur te werk om ons land ryk en magtig te maak. Dit het ’n omgewingskrisis gekos sodat ons uiteindelik die aaklige neweprodukte kon raaksien wat eenvoudig in die rivier of in ’n stortingsterrein gegooi is, of sommer by die agterdeur uit. (WWW.DIRTSTUDIO.COM - VERTAAL)
Alhoewel die ateljee in Amerika geleë is en meestal aan Amerikaanse projekte werk, geld hierdie opmerking vir die meeste lande in die wêreld. In vandag se ekonomie is dit belangrik om te vervaardig en te verkoop, en ons verloor dikwels uit die oog watter impak ons gewoonte het. Die werkmodel vir die D.I.R.T.-ateljee is samewerking. Die D.I.R.T.-ateljee se span werk saam met die kliënt en die veldspesialiste soos geskiedkundiges, wetenskaplikes en navorsers om ruimtes soos steengroewe, fabrieke en verlate stedelike treinstasies te konseptualiseer, te ontwerp en te herontwerp. Julie Bargmann het in 2001 die nasionale ontwerptoekenning van die Smithsonian se Cooper-Hewitt-museum ontvang.
“
AMD (suur water) bedreig ook Suid-Afrika. In Johannesburg is die bedreiging van AMD-vergiftiging ’n werklikheid, aangesien giftige water uit ou, verlate myne stroom.