STAP4 Noudat jy ’n pragtige potloodskets van ’n letter op ’n A4-bladsy het, begin om noukeurig die organiese vorms te teken. Van jou organiese vorms kan hulle uiteindelik oor die letter drapeer. Dit is waarom ons verkies dat jy die letter eers in potlood teken. Dit is belangrik dat jy die organiese vorms met die letter integreer en verweef. Dit moet lyk of hulle nooit op hulle eie was nie. Hierdie vlak van integrasie kan verkry word deur die organiese vorms te vervorm en verweef, óf rondom die letter óf binne-in die letter, en die buitelyn van die letter as die grens te gebruik. Kyk weer na ons voorbeelde van geïllumineerde letters. Jy kan ook besluit om die vorm agter die letter te teken, amper soos ’n raam wat jou organiese motiewe sal bevat. Jy kan hierdie of ander metodes gebruik wat jy kan dink sal verseker dat jy die letter en die versiering as ’n eenheid sal sien. Moet egter nie vergeet dat dit steeds belangrik is dat die letter sterk genoeg moet wees en nie tussen die detail moet verdwyn nie.
Wanneer jy die hele ontwerp op papier het, maak seker dat jy die ontwerpbeginsels toepas en sien wanneer daar ’n goeie balans, ritme en komposisie is, en dat jou geïllumineerde letter in ’n wonderlike, esteties-aangename, oorkoepelende ontwerp uitloop.
STAP5 Gebruik jou swart merkpen of enige ander goeie gehalte swart viltpen wat nie inkkladde sal laat as jy ’n meer sensitiewe lyn verkies nie, en teken die buitelyne van jou vorms. Maak seker dat jy onthou watter wingerdlote of blare bo-oor of onderdeur dele van die letter gaan en teken dit dienooreenkomstig. Jou geïllumineerde letter sal baie gou klaar wees!
STAP6 Op hierdie stadium het jy nog geen kleur gebruik nie. As jy graag kleur wil gebruik, maak eerder ’n fotokopie van die oorspronklike ontwerp sodat jy ’n swart-en-wit-weergawe van jou ontwerp kan bewaar en by jou portefeulje kan voeg. Jy kan nou die oorspronklike gebruik en kleur by jou ontwerp voeg. As jy waterverf of enige ander metode wat ’n vloeistof behels, wil gebruik, maak asseblief seker dat die oorspronklike ink wat jy vir die swart buitelyne gebruik het, permanent is, anders sal jy jou pragtige ontwerp smeer sodra jy kleur byvoeg. Hou die keuse van media en kleur in gedagte sodat dit ook die Art Nouveau-styl weerspieël. Dit kan ook wonderlik wees om dit net swart en wit te los.
STAP7 Skryf ’n kort rasionaal oor die besluite wat jy gedurende hierdie projek gemaak het. Vroeë besluite soos waarom jy die persoon gekies het, watter organiese verwysings gebruik is en waarom, het jy met ’n kwas of pen gewerk, en waarom, en het jy kleur bygevoeg of nie en waarom?
Al hierdie besluite was deel van die ONTWERPPROSES. Nie een van hierdie
besluite kon geneem gewees het sonder dat jy daaroor nagedink het nie, en jy moet dit kan regverdig. Die ontwerpproses en deurdagte besluitneming is ’n belangrike deel daarvan om ’n ontwerper te wees. Geen lukrake besluite word gemaak nie, en ook geen keuses wat per ongeluk is nie. Om “te voel iets is nodig” of om “geïnspireer te wees” om iets te doen sonder om jou besluit te kan motiveer, sal net nie in die bedryf werk nie! Dink na oor die besluite wat jy geneem het en sê of jy enige van die besluite sou verander as jy dit kon oordoen.
STAP8 Maak al die werk wat jy gedoen het bymekaar en plaas jou finale ontwerp(e) (swart-en-wit en/of kleur) by die rasionaal, en bied jou projek op ’n professionele wyse aan.