Wanneer jy ’n toepaslike lettertipe vir jou ontwerp kies, moet jy oorweeg wat die lettertipe moet kommunikeer en wat die fisiese beperkings van die ontwerp gaan wees. As jy byvoorbeeld gevra word om ’n boks vir ’n vrugtesapreeks te ontwerp, kan jy dalk ’n meer organiese en dekoratiewe lettertipe vir die logo op die voorkant van die verpakking oorweeg, maar aan die agterkant waar jy die bestanddele sal moet lys, die besonderhede van die produsente, die herwinningsinligting en moontlik ook ’n promosieteks moet gee, word jou ruimte baie beperk. Die hoofdoel van die teks op die agterkant van jou sapboks is om sekere belangrike boodskappe en inligting aan die kliënt oor te dra. Die vereistes vir ’n lettertipe vir hierdie doeleindes sal dus duidelikheid en leesbaarheid wees. Jou keuse vir elke visuele element, insluitend die lettertipe wat jy gaan gebruik, moet altyd op die vereistes van die ontwerp, die beperkings van die opdrag en die belangrikste konsep van die ontwerp gegrond wees.
Kyk na die ontwerp van verpakkingsvoorbeelde in jou daaglikse lewe – van jou ontbytgraan- tot medisynebokse, van konfyt tot skoonmaakprodukte. Jy sal vind dat waar duidelike kommunikasie nodig is, ontwerpers sans serif- en onversierde serif-lettertipe gebruik. Om te leer hoe om die toepaslike lettertipe te gebruik, is baie soos om oor die ontwerpproses te leer – jy moet navorsing doen oor die vereistes vir die lettertipe om te verstaan watter boodskap die lettertipe moet oordra, byvoorbeeld is dit pret of meer ernstig, en sal dit vir ’n klein gedeelte wees of ’n groot blok teks? Hierdie vrae en talle ander sal jou help met die keuse van ’n toepaslike lettertipe wat die ontwerpkonsep moet steun en saam met jou ander visuele elemente werk.
Behalwe dat jy met ander visuele elemente in ’n ontwerp moet werk, moet lettervorms van dieselfde lettertipe dikwels gewysig word om meer gebalanseerd te lyk of om in ’n vooraf vasgestelde grootte in te pas. By tipografie hou hierdie aanpassing gewoonlik verband met een van twee konsepte, naamlik reëlspasie (leading) en letterspasiëring (kerning). Reëlspasie verwys na die ruimte tussen een sin en die volgende, of meer presies die afstand tussen die basislyn van een letter en die basislyn van die letter onder dit. Dit word in Engels “leading” genoem. Die woord ‘leading’ (uitgespreek as “ledding”) is afgelei van die tyd toe alle letters met die hand geset is. Om te verseker dat daar ’n smal gaping tussen sinne is, het die setters ’n dun strokie lood tussen die sinne geplaas en daarvandaan het die term “leading” gekom.
Hieronder is ’n gedeelte sonder ’n aanpassing van die reëlspasie. Let op hoe moeilik dit lees:
Ontwerp beteken om ’n plan te formuleer, stelselmatig te beplan – gewoonlik in grafiese vorm; om te skep, om iets vir ’n bepaalde doel of effek te prakseer; om op ’n kunstige, hoogs vaardige manier te skep of uit te voer.
Hieronder is ’n gedeelte met ’n 50%-reëlspasie- aanpassing (leading). Let op hoeveel makliker dit lees:
Ontwerp beteken om ’n plan te formuleer, stelselmatig te beplan – gewoonlik in grafiese vorm; om te skep, om iets vir ’n bepaalde doel of effek te prakseer; om op ’n kunstige, hoogs vaardige manier te skep of uit te voer.