Dit behoort teen hierdie tyd duidelik te wees dat elke geslag ontwerpers voor hulle eie stel probleme, uitdagings, inspirasie, materiale en tegnologie te staan kom, en as gevolg hiervan word enige gegewe ontwerp ’n weerspieëling van sy tyd, plek en ruimte.
Jy is in kwartaal 3 bekendgestel aan kartonhuise as ’n moontlike oplossing om maatskaplike en omgewingsprobleme op te los. Ons het ook gesien dat karton feitlik onbeperkte gebruike het, en as gevolg van die aanpasbaarheid daarvan het ontwerpers gekyk na die strukturele ingenieurseienskappe van karton om ontwerpe te skep wat revolusionêr is!
Karton as medium het as ’n “wondermateriaal” ontpop!
Kwartaal 4 gaan voort op hierdie pad om “wondermateriale” te ontdek en deur die proses van “hergebruik, herwin en herskep” wys ons jou hoeveel materiaal net so vindingryk en vernuftig kan wees as dit kreatief aangewend word.
Ons werk met papier as ’n “sagter” opsie as karton en skep papierrokke wat jou asem laat wegslaan! Jy het egter ook die opsie om gevonde of klaar voorwerpe te gebruik om ’n verskeidenheid produkte te skep – van kaste tot potte, lampe en stoele. Die keuse is joune om te skep.
Hierdie kwartaal stel ook kortliks uitstaltegnieke bekend wat jou hopelik sal leer hoe om uitstalmetodes te gebruik wat sal verseker dat selfs ’n swakker ontwerp op die ou einde soos ’n ster sal skyn!
Dit is ’n baie belangrike afdeling van jou werk en moet gebruik word as oefening vir die einde van die jaar se finale oorsiguitstalling vir Graad 12 volgende jaar.
Net soos jy ’n komposisionele uitleg vir enige enkele ontwerp skep, beteken die opstel van ’n uitstalruimte ook dat jy ontwerpelemente en -beginsels gebruik om ’n spesifieke voorkoms/gevoel of ambiance bymekaar te bring om sodoende ’n toepaslike interpretasie vir jou ontwerphandelsmerk te skep.
Dit sal raadsaam wees om: • die jongste uitstaltendense te bestudeer deur te kyk na venster-, winkel- en ontwerp-uitstallings by ekspo’s
• te besluit oor ’n saambindende kleur of tekstuur vir jou uitstalruimte wat jy binnenshuis of buitenshuis kan beplan.
Ons kom in die Graad 12-handboek na hierdie projek terug en gee daar vir jou meer gevorderde uitstaltegnieke.