Kontras verwys na die verskil in kleur tussen die agtergrond en die teks. As jy donkerblou letters op ’n swart stuk papier druk, is dit baie minder sigbaar as wanneer jy swart letters op wit papier druk. Dit is ook belangrik om ’n agtergrond te vermy wat ’n patroon of beeld op het. Wanneer die agtergrond van ’n ontwerp baie besig is, word dit baie moeiliker om die gedrukte teks te lees. ’n Kontrasverskil van 70% tussen agtergrond en teks word voorgestel. Dit is baie moeilik om groot stukke lyfkopie op ’n donker agtergrond op papier en veral op ’n skerm te lees. Dit moet liefs vermy word, behalwe as dit slegs ’n paar reëls is en jy spesifiek aandag op daardie teks wil vestig, byvoorbeeld vir ’n prikkelteks (pull quote).
Aan die anderkant lees groot letters soos dié op padtekens baie goed op ’n donker agtergrond en jy sal dikwels sien dat kennisgewings in winkelsentrums en flieks op ’n donker agtergrond vertoon word. Ons noem hierdie styl van tipografie omgekeerde lettertipes.
Spasiëring
Wanneer sinne of woorde te naby aan mekaar is, raak dit moeilik om dit te lees. Dit is belangrik om dan te oorweeg om die spasie tussen sinne te vergroot om dit leesbaar te maak, maar wees versigtig: as jou spasie te groot is, lees die sinne nie as ’n eenheid nie.
Die globale wêreld waarin ons vandag woon
Die tegnieke wat hierbo aangegee word, is praktiese maatreëls wat aangewend kan word om ’n universele gebruik en begrip van jou ontwerp en boodskap te verseker. Die manier waarop ons ’n boodskap lees en verstaan, is egter gegrond op wie ons is, ons nasionaliteit, ons kultuur, ons taal, ons geletterdheidsvlakke en so baie ander aspekte. Om ontwerpe te skep wat tot soveel mense as moontlik spreek, moet ’n ontwerper die inhoud, taal, kleur, beelding en tipgrafiese elemente in ag kan neem. As ’n ontwerper met ’n opdrag om ’n spesifieke idee of konsep oor te dra, is die uiteindelike universele uitdaging om ’n boodskap te ontwerp wat deur almal verstaan kan word. Die frases “die wêreld word al kleiner” en “ons woon in ’n wêrelddorp” dui aan hoe klein die wêreld in die afgelope 50 jaar geword het. Universele ontwerp en ander teorieë en metodologieë wat probeer om ontwerpoplossings vir ’n wêreldgehoor te ontwikkel, hou almal verband met die toestand van die wêreld waarin ons woon. Met tegnologieë soos die internet en slimfone kan jy nou onmiddellik met iemand op ’n ander kontinent praat. Die idee van ’n universele boodskap word egter teengewerk met elke baie spesifieke en hoogs presiese boodskap wat vir spesifieke gehore bedoel is. Konsepte soos propaganda, stereotipering en vooroordeel is in direkte teenstelling met universele beginsels.
Propaganda soek na ’n uitgesoekte gehoor in plaas daarvan om so ’n groot gehoor as moontlik te bereik. Propaganda fokus dikwels op ons vrese en probeer om die verskille tussen mense en hulle idees te beklemtoon. In plaas daarvan om mense voor te stel soos hulle werklik is, word stereotipering en vooroordeel in propaganda gebruik om op ’n paar – dikwels onwerklike – eienskappe van mense te fokus en is dikwels vol onbevestigde idees en haatgevoelens teenoor ’n enkele groep mense.
Die idee van vrede word in ’n rasionele begrip en aanvaarding van verskille saamgevat. Vrede is nie daar waar mense almal dieselfde is nie – dit is daar wanneer mense wat baie verskil, maniere kry om met mekaar saam te leef sonder om mekaar te bedreig. Die rasionele gehalte van vredevolle naasbestaan word deur konsepte soos insluiting en deelneming van almal versterk.