Elizabeth Taylor het Cleopatra gespeel in die film oor haar lewe wat op 1 Julie 1963 vrygestel is en vier Oscars gewen het.
Die plakkaat vir die Cleopatra-film van 1963. Die plakkaat sluit hoekige tipografie in wat ’n mens aan die vroeë Mesopotamiese en Egiptiese skrif herinner, asook ’n illustrasie wat die hoofkarakters, Cleopatra, Markus Antonius en Julius Ceasar uitbeeld.
Daar was 30 dinastieë as jy die regering van Cleopatra uitsluit. Om dit makliker te maak om na te vors en die gebeure en prestasies in antieke Egipte op te teken, is die verskillende dinastieë in “koninkryke” en tydperke tussen-in verdeel. Hierdie koninkryke is nie na ’n plek vernoem soos ons dit vandag ken nie, byvoorbeeld die Koninkryk van Swaziland, maar eerder na tydperke. Daar word steeds onder geskiedkundiges gedebatteer oor die presiese datums van Egiptiese koninkryke en fases. Met nuwe navorsing wat ons help om meer oor die Egiptiese geskiedenis te verstaan, moet ons heeltyd herevalueer wat ons vroeër as feite aanvaar het. Hieronder is een manier om die geskiedenis van Egipte in koninkryke en tussenperiodes te verdeel.