Terwyl die res van Europa besig was met die Eerste Wêreldoorlog, kon kunstenaars in Holland ononderbroke werk. As gevolg hiervan of in reaksie op (hier is dit weer) die chaos en vernietiging van die oorlog in ander lande, het ’n groep kunstenaars hulleself onder die naam De Stijl of “Die Styl” georganiseer. Wat De Stijl van ander eietydse bewegings onderskei het, was dat dit nie ’n politieke of sosiale beweging was nie, maar ’n gesamentlike projek van groot kunstenaars.
Soos jy reeds weet, het belangrike kunstenaars Theo van Doesburg, Gerrit Rietveld en Piet Mondrian ingesluit. Die bekenste van hulle, Mondrian, het geput uit sy persoonlike reis deur Kubisme en Analitiese Kubisme en die meeste hiervan as die teoretiese beginsels vir De Stijl neergeskryf. Hierdie reis het hom uiteindelik uitgebring by ’n algehele en suiwer abstraksie wat uit slegs lyne en reghoeke bestaan het. Hierdie lyne en reghoeke is teen regte hoeke geplaas en die enigste kleure wat hy gebruik het, was “suiwer” primêre kleure en swart en wit. Daar was ’n vermindering van alles ten opsigte van vorm en kleur. Alle voorstellings en emosies is uit die werk gehaal tot net die geometriese abstraksie oorgebly het. Hy het hierdie manier van werk neoplastisisme genoem.
Volgens die beginsels van die De Stijl-beweging, moet die kunstenaar die wese van die onderwerp voorstel, sonder om in werklikheid enige detail te gee. Enige uitbreiding met detail sou veroorsaak dat daar wegbeweeg word van die “goddelike suiwerheid” van die onderwerp self. Hulle het gevoel dat as hulle kuns enige stukkie detail bevat het, dit die kyker se begrip daarvan sou voorskryf of manipuleer, eerder as om die lewenservarings van elke persoon toe te laat om die werk op sy eie manier te interpreteer.
Stilering tot op die punt waar slegs die noodsaaklikste elemente oorbly, om nie voor te skryf wat iemand in die werk moet sien nie, kan gereken word as die belangrikste aspek van De Stijl se invloed op grafiese ontwerp.
Soos vroeër bespreek, moet die logo ’n eenvoudige beeld wees wat nie iets werklik voorstel nie, maar verteenwoordigend van die produk, maatskappy of diens is – iets wat die breë persoonlikheid en al die positiewe kenmerke van ’n maatskappy of diens in een enkele, sterk simbool of naambeeld saamvat. Hoe eenvoudiger en minder spesifiek die beeld, hoe meer sê dit. As jy te direk en voorskriftelik is (deur onnodige detail by te las), gee jy die kyker geen kans om al die moontlikhede raak te sien wat die logo kan voorstel nie. Talle ontwerpers pas hierdie reël toe: as hulle detail van ’n logo kan weglaat sonder om die boodskap te verander, laat hulle dit liewer weg. Dit help om te verseker dat wat oorbly, die noodsaaklikhede is.
Dit sal vandag laf wees om te dink dat ontwerp in enige vorm tot reghoekige lyne en vorms of slegs primêre kleure beperk kan word! Talle vorms in baie style in al die kleure waaraan jy kan dink, word vandag gebruik, maar die ideaal van fundamentele voorstelling (die essensie van ’n konsep) word steeds wyd toegepas.