Hier is ’n paar riglyne vir die ontwerp van doeltreffende rigtingwysstelsels, • Wees konsekwent met lettertipes en die ligging van naamborde regdeur die stelsel – mense moet weet waar om tekens te soek en daar moet ’n konsekwentheid en kontinuïteit in jou benadering wees.
• Gebruik hoof- en kleinletters vir die beste leesbaarheid, behalwe in die geval van enkelwoorde. Wanneer ’n teken uit slegs een woord bestaan, kan jy net hoofletters gebruik, maar dis nie nodig nie.
• Om leesbaarheid te verhoog, vermy enkelspasiëring – die reëlspasie moet só wees dat dit maklik lees
• Probeer om die inligting op komplekse tekens te groepeer om begrip te verbeter. • Ontwerp jou letters so dat dit links inlyngestel is. Wanneer dit regs inlyngestel of gesentreer word, sal dit jou tekens moeilik maak om te lees – as jy onseker is, kyk na die bespreking oor tipes inlynstellings in Module 1.
• Gebruik vir naamborde kleure wat genoeg verskil sodat jy nie jou kykers verwar nie (twee skakerings van groen wat twee verskillende verdiepings in ’n gebou aandui, kan net te moeilik wees om te onderskei).
• Hou rooi, geel en groen vir die kommunikering van openbare veiligheid. • Moenie naamborde met bou-elemente soos ligte en luggate versper nie.
STAP1 Identifiseer ’n interessante gebou in julle buurt. Dit moet ’n gebou wees wat normaalweg ’n rigtingwysstelsel gebruik of reeds een het – soos ’n kantoorgebou of klein winkelsentrum. Stap deur die gebou en let op na jou omgewing. Het die gebou ’n rigtingwysstelsel?
Is dit
sigbaar? Is dit interessant? Kan jy die tekens vanuit enige hoek lees? As jy vinnig by die toilette wil uitkom, kan jy dit sonder probleme doen? Sê dit vir jou waar die uitgang, die nooduitgange, OTM’e, telefone is? Skryf ’n ontleding van die huidige stelsel en gebruik die punte hierbo as verwysing. Neem foto’s as jy kan om jou punte te illustreer. Verdeel die naambord-komponente in die kategorieë van oriëntering, rigting, bestemming en situasie-/ voorwerp-identifikasie. Maak seker dat jy al jou navorsing by jou werkboek insluit.
STAP2 Vir hierdie oefening moet jy ses verskillende komponente/naamborde ontwerp wat deel van ’n groter rigtingwysstelsel is. Let op dat ons wil hê dat jy een naambord ontwerp wat pas by elkeen van die rigtingwyselemente (soos in die begin gelys op bl. 230) , en dan nog twee van jou eie keuse. Daar sal baie naamborde wees om uit te kies en sommige kan moeiliker wees om te gebruik as ander.
Kies noukeurig en waag! Jy kan die naamborde volgens skaal ontwerp, maar dis nie verpligtend nie.
STAP3 Die beste manier om ’n rigtingwysstelsel voor te stel, is om dit in sy omgewing te plaas. Jy moet dus ’n lyntekening maak van die winkelsentrum en die naamborde volgens skaal en in die korrekte posisies in verhouding tot die omgewing byvoeg. Hierdie tekeninge moet óf een- of tweepuntperspektieftekeninge wees (afhangend van jou spesifieke binnekant en die hoek van die binnekant wat jy wil wys). Raadpleeg asseblief weer jou Graad 10-handboek waar perspektieftekeninge in besonderhede bespreek is. As jy ’n kamera het, kan jy ook ’n foto of fotostaat gebruik en jou tekens daarop byvoeg, solank jy die posisionering en skaal van jou rigtingwysstelsel duidelik kan sien.