• Hou jou vrae direk, kort en gefokus. Onthou: jy wil meer uitvind oor loopbaan- en tersiêre geleenthede en die kuns-/ontwerpwêreld!
• Orden jou vrae logies. • Maak seker dat jy ’n paar algemene oop vrae insluit om die persoon met wie jy die onderhoud voer, die kans te gee om sy of haar eie opinies en sieninge te deel. Oop vrae is vrae waarvoor daar geen vooropgestelde antwoorde is nie.
• ’n Goeie oop vraag moet neutraal wees en enige vooropgestelde idees of vooroordeel van jou kant af vermy. Moenie jou eie mening uitspreek voordat jy ’n vraag stel nie, byvoorbeeld “Ek dink ..., wat dink u?” Maak ook seker om jou vrae te balanseer deur verskillende kante van ’n onderwerp te stel. As jy die persoon vra om aan die suksesse van ’n projek te dink, moet jy hom/haar ook vra oor die leemtes van daardie projek of hoe die projek verbeter kon word.
• Die persoon kan soms oor iemand of iets praat wat jy nie ken nie. Die beste benadering is om direk te wees. Laat die persoon die antwoord voltooi en vra hom of haar dan om die verwysing te verduidelik, byvoorbeeld “U het nou net beskryf hoe u ekstra fondse gekry het van .... Ek ken nie daardie groep nie. Vertel my asseblief meer.”
• Wees altyd hoflik en respekvol. • Vermy vrae wat tot vooroordeel of ongemaklike situasies kan lei. • Wees ook bedag op taalvoorkeure!
Dit is ’n voorgestelde riglyn om ’n vraelys saam te stel waarvolgens ’n onderhoud gevoer kan word. Dit kan as voorbeeld vir onderhoude gebruik word en sal jou help om ’n basiese stel vrae saam te stel wat deur individue in soortgelyke gevalle in onderhoude gebruik kan word. Die ondervraer moet egter vir elke onderhoud bedag wees op die ondervraagde se begeerte om oor verwante onderwerpe of kwessies te praat. In so ’n geval kan die onderhoud selfs meer produktief en verrykend wees as kwessies wat die ondervraer nie van weet nie, aangeraak word. As jy toegang het tot ’n stemopnemer, vra toestemming om dit te gebruik. Dit is vandag baie makliker om inligting te kry as jy nie hoef te sukkel om alles neer te skryf nie. ’n Diktafoon kan van groot hulp wees. Kyk of jou selfoon dit nie kan doen nie. Die meeste van hulle kan deesdae klank opneem. Nog ’n wenk, as jy ’n diktafoon gebruik: toets dit voor die tyd. Een van die ergste dinge wat kan gebeur is as jy rustig aanhou opneem en dink dat jy alles het, net om later uit te vind dat daar niks is nie. Jy wil werklik nie teruggaan en die onderhoud van voor af voer nie. Dit kan baie onprofessioneel lyk. Probeer dit dus maar voorkom.
ONDERHOUD-VOORBEELD Agtergrondinligting oor die ondervraagde:
• Datum van die onderhoud • Plek waar die onderhoud plaasgevind het • Naam van die ondervraagde • Naam van sy/haar onderneming • Materiale en tegnieke wat deur dié persoon gebruik word • Opleiding en/of ervaring van die ondervraagde • Besonderhede van werknemers, indien toepaslik