Doen ’n lyntekening van jou finale proscenium op die natrekpapier. Hierdie tekening sal nou jou meesterkopie wees. Jy kan nou ’n beter gehalte papier neem en ’n finale en meer presiese tekening maak deur die natrekpapier bo-oor ’n venster te laat loop sodat jy presies kan sien waar om wat te teken. As jy nie toegang tot ’n fotokopieerder of drukker het nie, kan jy gebruik maak van tydskrifte, koerante, brosjures, strooibiljette, katalogusse, advertensies, gemeenskaps- en eiendomsblaadjies ens. Jy kan dan jou argitektuurstrukture of -kenmerke uit hierdie prente knip of uit visuele beelde uit hierdie bronne kry.
Dit is veiliger om eers met hierdie mediums te eksperimenteer voordat jy dit op jou finale werk toepas!
Die voorstel hier is ’n standaardtegniek wat gebruik word vir die skep en afwerk van papierteaters. Die doel hier is om die tegniek van “fotokopiedrukwerk” en waterverf te bemeester. Die gebruik van fotokopieë vir collages is nie ’n nuwe tegniek nie. Die belangrikste doelwit is om ’n goeie gehalte afdruk te kry – en dit begin met die uitsoek van afdrukke van goeie gehalte wat van die internet of uit boeke gekry kan word. Al die stadiums in die produksie van ’n papierteater het ’n deeglike en kritiese oog nodig. Die inkleur van fotokopieë is ook niks nuuts nie.
Kan jy jou indink in ’n tyd toe kleurfoto’s nie bestaan het nie? ’n Fotograaf moes in daardie tyd ’n verskeidenheid ink gehad het om swart-en-wit-foto’s met die hand in te kleur. Jy kan steeds vandag hierdie foto’s in museums aantref. En jy weet nooit! Jy kan selfs ’n paar voorbeelde daarvan tussen jou oupa en ouma se goed kry.
Vir hierdie projek wil ons hê dat jy leer om die kleur van hierdie fotokopieë te bemeester om tegnies vaardig te word in die gebruik van kleur en die aanwending van waterverf, glasuur en/ of kleurstowwe. Die tekenprogram en die oefeninge vir Module 2 sal ook help, aangesien jy hier met van hierdie tegnieke gaan eksperimenteer. Die voorbeeld hieronder is ’n goeie voorbeeld van ’n fotokopie wat met waterverf ingekleur is.
Joseph Merrick se “’n Tragedie in drie bedrywe”, ’n toneelstuk wat op die lewe van die Olifantman gegrond is, was die inspirasie vir die miniatuur- papierteater links.
DEEL2
DIE GORDYN SKUIF OOP ... Skep die binnekant en karakters en stel die verhoog op vir jou diorama of miniatuur- papierteater
ONTHOU: Die konstruksie van ’n diorama kan ’n interessante manier wees om stories te illustreer of help om geskiedenis lewendig te maak. ’n Diorama is ’n toneel wat tyd, plek en mense uitbeeld. Dit kan gebruik word om ’n toneel uit ’n boek, ’n natuurlike omgewing of geskiedkundige tydperk te illustreer.