Die volgende afdeling kyk na die geskiedenis en ontwikkeling van tipografie en hoe ontwerp gebruik kan word om spesifieke idees te kommunikeer en hoe die boodskap van ’n ontwerp selfs gewysig kan word deur ’n ander keuse van beelding en tipografie.
Kom ons kyk na die geskiedenis van tipografie sedert die begin van tyd
Tipografie as ’n vakwetenskap en kunsvorm is een van die oudste ontwerpaktiwiteite en kan tot by die Sumeriërs van Mesopotamië in 3200 v.C. teruggevoer word.
Ons pas vandag die manier aan waarop boodskappe gekommunikeer word deur die keuse van toepaslike lettertipe, belyning en tipografie-wysigings soos letterspasiëring en reëlspasie. Ons moderne begrip van lettertipe en die rol wat hulle in die bou van ’n ontwerp speel, is verstommend, maar waar het dit alles begin? Hoe het ons van prente op rotse en in klei ontwikkel tot die geweldige getal alfabette en lettertipe wat vandag beskikbaar is?
“Daar moet gesoek word na die kern van skryfwerk in tekeninge, ’n basiese
medium wat gebruik is om idees oor te dra voordat skrif uitgevind is.” ZDENOKOLESAR
Die geskiedenis van menslike kommunikasie kan teruggevoer word tot lank voor die ontwikkeling van ’n alfabet en skrif soos ons dit ken. Van die vroegste menslike merktekens is meer as 200 000 jaar oud, maar die meeste van die merktekens wat ons vandag bestudeer, word in Afrika en Europa aangetref en dateer terug tot die Paleolitiese en Neolitiese tydperke (35000 v.C. – 4000 v.C.). Die Paleolitiese tydperk verwys na die mense en kultuur wat gedurende die Ou Steentydperk ontwikkel het. Die Ou Steentydperk word gekenmerk deur die produksie van vroeë voorbeelde van gevormde klipwerktuie soos pylpunte. Die Mesolitiese tydperk het op die Paleolitiese tydperk gevolg, en daarna het die Neolitiese tydperk aangebreek. Dit is gedurende die Neolitiese tydperk, wat ongeveer 10 000 jaar gelede begin het, dat die mens begin het om te boer en hom te vestig. Ander belangrike gebeure gedurende die Neolitiese tydperk was die tem van diere en die ontwikkeling van verskillende kunspraktyke soos weefwerk, pottebakkery en skilderwerk.
Een voorbeeld van hierdie vroeë merktekens kan gesien word in die Frans-Kantabriese driehoek, wat in ’n groot gebied van Spanje en Frankryk voorkom. In die beroemde grotte van Lascaux (in die Franse deel van die Frans-Kantabriese driehoek) is daar amper 2 000 figure op die mure geverf. Dit sluit mense, bulle, bisons, perde en ander diere in. Benewens die mens- en dierefigure is daar ook ingewikkelde geometriese patrone. Hierdie beelde is op die muur geverf deur vingers, riete en hare as kwaste te gebruik en deur verskillende natuurlike pigmente soos houtskool wat uit vure gekry is en oksiede van yster te gebruik, terwyl sommige in die mure ingekerf is. In die vroëere tekeninge is die oppervlakke van die grotte net ’n skoon agtergrond, maar in later werke is die fisiese knoppe en kurwes van die muuroppervlak in ag geneem en by die tekeninge geïntegreer.