Ons gaan ons eie Art Deco-patroon skep! Jy gaan in hierdie oefening bewys dat jy die stilistiese voorstellings van Art Deco verstaan en dat jy hierdie kennis kan gebruik om ’n pragtige, oorspronklike en opwindende ontwerp te skep wat op talle oppervlakke aangebring kan word.
Van die herkenbare eienskappe van Art Deco is dat hulle gebruik gemaak het van reguit horisontale of vertikale lyne of skoon kurwes en skuins strepe. Daar is ook van simmetrie en drama gebruik gemaak. Ontwerpe is dikwels in swart en wit gedoen met beperkte aksentkleure. Jy gaan hierdie eienskappe gebruik om jou eie ontwerp suksesvol te voltooi.
Jy het vir hierdie projek twee stukke goeie gehalte A3-papier nodig.
STAP1 Trek 12 blokkies op die eerste stuk papier soos in die voorbeeld. Die blokke moet presies 90 x 90 mm wees. In die eerste ry van vier vertikale blokkies teken baie akkuraat horisontale, vertikale, diagonale en kwartsirkels (met ’n passer), elkeen in ’n blokkie. Hierdie vertikale en horisontale reëls moet 10 mm uit mekaar wees. Die diagonale en kwartsirkels sal dan aangaan vanwaar die horisontale en vertikale sirkels die einde van die blokkie waarin hulle is, bereik het. Kyk na ons voorbeeld as jy onseker is. Hulle kan in enige volgorde wees, maar dit is regtig belangrik dat jy baie akkuraat werk. Jy sal sien dat die eerste ry eintlik baie eenvoudig is – as jy akkuraat werk kan jy nie ’n fout maak nie!
STAP2 In die ry langsaan, herhaal die vertikale, diagonale, kwartsirkels en horisontale reëls, maar nie direk langs dieselfde patroon in die eerste ry nie. Ons wil nou dinge nog ’n bietjie moeiliker maak en regtig vir jou ’n uitdaging stel. Trek ’n ander patroon oor die lyne wat jy nou net geteken het sodat jy op die ou einde ’n dubbele patroon het. As jy akkuraat gewerk het, sal jy sien dat jou lyne op die kante van die blokke begin saamkom. Beweeg hierna na die derde ry. Hier kan jy kreatief raak en steeds nog ’n laag met ’n ander patroon byvoeg. Dinge gaan baie besig begin word, maar dit is presies waar die opwindende deel van hierdie projek gaan begin.
STAP3 Gebruik ’n dun, swart trekpen of sketspen en teken versigtig presies oor die lyne. Dit is belangrik dat jy dit baie akkuraat doen. Gebruik nou slegs swart op die wit papier en begin om elke alternatiewe ry in te kleur. Jy kan swart Koki’s, merkpenne of swart ink of verf gebruik. Die besluit is joune! Jy kan ook besluit of jy wil hê dat die ingekleurde kolomme in mekaar vloei wanneer dit van een blok na die ander oorgaan, en of jy die gekleurde blokke wil onderbreek en die rye verander. Wat jy ook al besluit, die resultaat sal steeds wonderlik wees! Kyk hoe kreatief jy kan wees met die eenvoudige reëls van die oefening.