Later in hierdie module, in Projek 11, sal jy ’n onderhoud formeel moet beplan en uitvoer. Indien jy na ’n agentskap, firma of ateljee toe kan gaan en ’n onderhoud voer soos in opsie 1 hieronder van jou vereis word, kan jy die twee oefeninge kombineer en hierdie onderhoud gebruik om Projek 11 te voltooi. Dit moet egter aan die vereistes van Projek 11 voldoen. LET WEL Indien advertensiewese nie jou passie is nie, sal jy wel later in Projek 11 die geleentheid kry om enige ander kreatiewe loopbaan te ondersoek.
Ons wil graag die vorige inligting oor die verskillende rolle in ’n agentskap as riglyn gebruik om jou kennis uit te brei van hoe ’n agentskap of ontwerpateljee werk. Kies een van die volgende opsies.
OPSIE1 As jy in ’n stad woon, kan jy gelukkig genoeg wees om ’n groot agentskap te besoek en hierdie rolle binne die agentskap of ateljee eerstehands te sien. As jy dit kan doen, onthou om vooraf ’n afspraak te maak en al jou vrae wat jy wil vra, gereed te hê om saam te neem. Hulle is baie besig en jy wil nie hulle tyd mors nie. Benut die besoek ten volle deur uit te vind hoe hierdie spesifieke maatskappy werk – dalk deur te vra oor die tipiese geleenthede vir ’n jong persoon wat die bedryf wil betree, uit te vra oor toekennings en pryse wat hulle gewen het, en oor elke lid van die span se rol in die sukses van die veldtog. Watter tipe probleme en uitdagings kom hulle daagliks teë? Wat skep ’n goeie ontwerpspan? Hoe moet die persoonlikheid van iemand wees wat hulle in so ’n omgewing sou soek? Watter persoonlike eienskappe is belangrik in hierdie stresvolle omgewing?
Wanneer jy klaar is met die onderhoud(e) moet jy op die inligting op die vorige bladsye uitbrei en ’n opstel oor jou ervaring by die ateljee of agentskap skryf. Skryf die inligting neer wat jy versamel het en verduidelik waarom jy dink dat jy goed in so ’n omgewing of in ’n spesifieke rol binne die agentskap of ateljee sal inpas of nie. As daar een spesifieke rol binne die maatskappy is waar jy voel jy in die besonder sal inpas, kyk of jy nog ’n vergadering met daardie persoon kan kry, óf tydens jou besoek óf op ’n later stadium.
OPSIE2 As jy nie die geleentheid het om ’n maatskappy te besoek om die omgewing eerstehands te ervaar nie, kan jy ’n ander benadering volg. Die doel is om soveel inligting as moontlik te versamel sodat jy ’n ingeligte besluit oor jou toekoms kan neem as dit jou droom is. Dit behels ’n mate van navorsing. Om die maatskappy te besoek, is een manier van navorsing doen, maar daar is talle webwerwe wat in meer besonderhede sal verduidelik wat elke rolspeler doen. Al die groot maatskappye het elkeen hulle eie webwerwe wat ook ondersoek kan word. Jy sal daar ook al hulle kontakbesonderhede kry. Jy kan hulle telefonies kontak vir ’n paar kort vrae – weer eens is dit ’n baie kompeterende en stresvolle bedryf. Moenie hulle tyd mors nie. Dit kan selfs toepasliker wees as jy jou oproep opvolg met ’n vraelys met meer besonderhede wat jou sal help om meer inligting te versamel.