Kaart van Mesopotamië: Die vroeë Mesopotamiese beskawing het tussen die Tigris- en Eufraatrivier ontwikkel. Die stad Ur was een van die grootste stede in die Sumeriese streek
Klein gemeenskappe het aanvanklik ontwikkel sonder dat hulle veel met mekaar te doen gehad het. Dit is hoofsaaklik veroorsaak deur die feit dat elke gemeenskap op oorlewing moes fokus. Namate die tyd verbygegaan het, het hierdie gemeenskappe in groter stadstate ontwikkel en mededinging om mag en grond het fel geword. Die hoogtepunt van die Mesopotamiese beskawing is tussen 3000 en 331 v.C. bereik. Aangesien hierdie streek maklik aangeval kon word, het klein, geïsoleerde gemeenskappe ontwikkel. Hierdie gemeenskappe het mekaar dikwels aangeval om te bepaal wie volgende sou regeer. Alhoewel ons dikwels van die Mesopotamiese kultuur praat, is dit belangrik om daarop te let dat Mesopotamië nie een aaneenlopende, verenigde land was nie, maar eerder oor talle verskillende tydperke gestrek het wat deur verskillende heersers regeer is, soos die Sumeriese, die Akadiese, Babiloniese, Assiriese en Neo-Babiloniese tydperke. Dit is die vroeë tydperk in die Mesopotamiese geskiedenis, dié van die Sumeriërs, wat die vroegste voorbeelde van ’n georganiseerde skrifstelsel toon.
Teen die middel van die 4de eeu v.C., toe die Sumeriërs hulle in die Mesopotamiese streek gevestig het, het die uitwerking van die natuur en die veranderende klimaatstoestande op die Sumeriërs nie slegs die fisiese lewe van Mesopotamiërs beïnvloed nie, maar ook hulle geestelike lewe. Verskillende natuurgode het deel gevorm van die vroeë Mesopotamiese kultuur. Hulle hoofgod was Anu, die magtigste god. Godsdiens het die Sumeriese lewe oorheers en in die sentrum van die godsdienstige lewe in ’n stadstaat was die tempel, of ziggurat, wat aan die stadstaat se beskermgod of -godin gewy was. Priesters by die tempel moes bereken en opteken wie watter kos verskaf het, hoeveel kos gestoor is, hoeveelhede wat met ander stadstate verhandel is, ens. Hierdie administratiewe taak het al hoe meer ’n las geword namate die stadstate groter geword het en daar het ’n behoefte ontstaan om hierdie aktiwiteite te dokumenteer en die voedselvoorraad op te teken.
In die Sumeriese stad Uruk moes tempelpriesters ’n fisiese manier kry om hulle taal voor te stel. Die eerste *piktografiese kleitablet uit Uruk dateer terug na 3100 v.C. Op hierdie basiese kleitablet word inligting op ’n vereenvoudigde manier voorgestel en is in kwadrante op die tablet gerangskik. Vroeë piktografiese kommunikasiestelsels het daaruit bestaan om prentjies na tekens te vereenvoudig deur met skryfgereedskap, dikwels ’n riet of stokkie (stilus), merke in die nat klei te maak.
*
Piktogram: ’n element in ’n skrifstelsel wat verteenwoordigende prente gebruik wat dikwels vereenvoudig is.