Hier is ’n paar ongelooflike voorbeelde van ontwerpers wat die werklike kleurpotlode gebruik het om ongelooflike skulpturele ontwerpe te skep. Hulle inspirasie was beslis die kleurwiel, kleurskemas en tonale waardes!
Felissimo het die stukke hieronder ontwerp deur 500 kleurpotlode te gebruik. Hierdie potloodontwerpe is gebaseer op die herinterpretering van die kleurwiel en die tonale skaal van elke kleur. Jy kan jou verbeelding hier gebruik en die ontwerp strek of uitrol en nuwe vorms skep.
Die kleurwiel geïnterpreteer met die gebruik van 500 kleurpotlode, deur Felissimo
Maria Cristina Bellucci is ’n juwelier wat haar eie styl met die maak van juwele uit kleurpotlode ontwikkel het. Bellucci se gebruik van kleur en kontrasterende geometriese vorms is effektief vir die skep van moderne en unieke juwele. Die manier waarop sy die potlode sny en afskuur en die lood aan die binnekant oopvlek, veroorsaak dat elke stuk op sy eie interessant is en ’n mens dwing om daarna te kyk. Juwele word deesdae gewoonlik van edelmateriale, edelstene en draad gemaak; dus gee hierdie werke, wat hoofsaaklike uit potlode bestaan, ’n ander dimensie aan die werk – dit gee ’n gevoel van volhoubaarheid, speelsheid en verrassing.
Juwele ontwerp deur Maria Cristina Bellucci, wat kleurpotlode as haar materiaal gekies het