Kies drie tersiêre instellings in jou omgewing of die omgewing waar jy graag wil studeer. Kies een universiteit, een universiteit van tegnologie en een onafhanklike kollege.
Stel ’n tabel op met die volgende inligting vir elk van die instellings wat jy gekies het.
• Korrekte naam • Adres en alle kontakbesonderhede • Beskrywing van kwalifikasie • Duur van kwalifikasie • Hoofvakke van eerste tot derde of vierde jaar (afhangend van die duur van die kwalifikasie)
• Vereistes om aan hierdie instellings te studeer • Benaderde jaarlikse koste by elke instelling
Hierdie soort inligting kan telefonies verkry word deur die verskillende ontwerpdepartemente te besoek, deur na die individuele webwerwe te kyk, met ingeskrewe studente te praat (maar pas op, inligting wat studente verskaf, is nie altyd betroubaar nie!) of jy kan ’n beleefde brief aan die departementshoof skryf en die toepaslike inligting versoek. Hulle sal waarskynlik vir jou al die toepaslike literatuur en brosjures stuur wat vir jou al die inligting sal gee wat jy nodig het!
Wanneer jy al die toepaslike inligting het, moet jy besluit watter EEN van die drie instellings vir jou die beste gaan wees en die beste by jou gaan pas. Onthou om jou keuse te motiveer. Wees krities en eerlik. Om sonder navorsing so ’n besluit te neem, is amper net so gevaarlik as om met ’n meisie of ou te trou nadat jy hulle die eerste keer ontmoet het. Dit sal eenvoudig net onverantwoordelik wees – maak dus seker van jou besluit. Dit sal baie trane en waarskynlik later baie geld spaar!
Gee ’n netjiese tabel in met al die nodige inligting, asook jou evaluering en skriftelike besluit en motivering. Dit sal vir jou voordelig wees as jy moeite doen met hierdie oefening.
Om jou te help, sluit ons ’n lys in wat slegs ’n paar tersiêre inrigtings wat Ontwerp as studie- opsie aanbied, insluit. Vir meer inligting en raad oor loopbane en Ontwerpskole gaan besoek gerus die volgende webwerf: www.sabs.co.za/Design-Institute/