Noudat jy ’n saak het, ’n duidelike idee van wat jy wil bereik en ’n naam en logo vir jou projek, hoe gaan jy die res van jou doelwitte bereik?
Gaan jy ’n funksie reël? Gaan jy ’n kompetisie uitskryf om mense aan die gang te kry? Die tipe besluite wat jy nou neem, sal bepaal hoe jy verder in hierdie oefening gaan werk. Skryf jou plan van aksie neer. Jy kan selfs ’n klasbespreking hou om die toepaslikste manier te kry waarop elke leerder moet optree! Probeer om nuwe en skrander idees te kry. As elke saak in julle dorp met ’n pretloop afskop, kan jou saak dalk nie die nodige aftrek kry as jy dieselfde doen nie. Dink dus nog ’n slag!
Hoe jy ookal besluit jou doelwitte bereik moet word, die kans is goed dat jy fondse gaan nodig hê! Jy sal maatskappye vir borgskappe moet nader en hiervoor het jy ’n briefhoof asook ’n besigheidskaartjie nodig.
Hier is dus jou volgende taak: Ontwerp ’n briefhoof en besigheidskaartjie waarmee jy maatskappye vir borgskappe of donasies kan nader.
’n Besigheidskaartjie is gewoonlik die eerste item wat iemand van jou maatskappy, projek of onderneming sien en mense vir wie jy dit gee, bêre dit vir toekomstige verwysing. Dit moet dus beslis die oog vang. ’n Besigheidskaartjie is altyd óf 80 mm x 50 mm óf 90 mm x 50 mm. Snaakse vorms pas nie in besigheidskaartjiehouers in nie en beland net in die snippermandjie. Dit kan in landskap- of portretformaat wees. Daar word gereken dat portretformaat meer formeel is, maar dit hoef nie so te wees nie. Die vorm van die logo kan dikwels die formaat van die besigheidskaartjie bepaal. Inligting wat op die besigheidskaartjie moet verskyn, is die volgende:
• Jou logo en die maatskappynaam. • Jou naam en titel. Naas die logo is die naam van die persoon die belangrikste (grootste) op die besigheidskaartjie, en die titel verskyn normaalweg kleiner direk onder die naam van die persoon.
• Kontakbesonderhede: Telefoonnommer, selfoonnommer, faksnommer en e-pos asook fisiese adres moet op die kaartjie verskyn.
Tipografie moet eenvoudig wees, aangesien dit baie klein gaan wees sodat alles moet inpas. Enigiets te dekoratief gaan moeilik wees om te lees.
’n Briefhoof is gewoonlik op A4. Die rede hiervoor is dat die inhoud van die meeste briewe op briefhoofde op ’n rekenaardrukker gedruk word en sommige word gefaks. Dus moet dit standaard A4-grootte wees om in die drukker en faksmasjiene te pas. Inligting wat op jou briefhoof moet verskyn, is die volgende:
• Jou logo en die maatskappynaam • Kontakbesonderhede: Telefoonnommer, selfoonnommer, faksnommer en e-pos asook fisiese adres moet op die briefhoof verskyn.
• Ons gaan nie nou name van direkteure of maatskappyregistrasienommers gebruik nie, maar onthou dat hierdie dinge gewoonlik volgens wet vereis word.
• Sommige maatskappye het ’n slagspreuk êrens op die briefhoof, maar dis slegs daar wanneer dit tot die funksie van die briefhoof bydra.