Die sosiale elemente wat hierbo beskryf is, neem nie noodwendig die omgewingskwessies in ag nie. Die produksie- en verbruikersleefstyl wat tot nou toe ons wêreld gekenmerk het, kan nie voortgaan as ons hoop om op hierdie planeet te oorleef nie. Wanneer jy na die wêreld om jou kyk, sal jy ’n verbruikerskultuur sien van mense wat al die jongste uitvindings, allernuutste handelsmerke en ’n wye keuse van produkte wil hê om van te kies. Die blote hoeveelheid produkreekse wat vandag beskikbaar is, word dikwels blameer op die Industriële Revolusie – ’n tydperk in die geskiedenis van die Westerse wêreld wat op massaproduksie en tegnologiese ontwikkelings in die bedryf gefokus het. Om die blaam slegs op die Industriële Revolusie te plaas, lyk nie billik as jy die impak van die digitale revolusie en die houding van die moderne handelsmerkbewuste verbruikers in ag neem nie. Die waarheid is dat ons almal van nuwe en moderne produkte hou. Wees eerlik met jouself: as iemand vir jou ’n nuwe iPod of duur handelsmerk-jean gratis wil gee, sal jy nie huiwer om dit te neem nie, selfs al is die iPod en jeans wat jy het, nog heeltemal goed. Ons hou ons ook dikwels blind ten opsigte van die omgewing. Vra vir jou maats hoeveel van hulle herwin dinge en hoeveel oorweeg ’n produk se *koolstofvoetspoor voordat hulle dit koop. Die sukses van die wêreld se nywerhede en ekonomieë is gekoppel aan die bestedingsgewoontes van mense, maar is dit werklik in ons beste belang om net aan te hou koop sonder om aan die impak te dink wat ons aankope op sosiale en omgewingsvlakke maak? Ons weet almal dat die planeet as gevolg van oorbevolking en ons leefstylbesluite ly, maar doen ons iets daaraan?
Ontwerp kan ’n leidende rol speel om die probleme wat die wêreld vandag in die gesig staar, aan te pak. Ontwerpdenke as ’n spesifieke manier waarop ons probleme kan hanteer en oplossings vind, is besig om baie gewild te word wanneer sosiale en omgewingskwessies hanteer moet word. Praktiese ontwerpbesluite soos om eerder herwonne of meer omgewingsvriendelike materiale te gebruik om produkte te maak, of om eerder produkte te koop wat plaaslik vervaardig word, kan die toestand van die wêreld waarin ons leef, positief beïnvloed. Ontwerpers maak tog op die ou einde die produkte wat ons koop, die klere wat ons dra, ons voedselverpakking, die naamborde wat ons volg, die advertensies waarvan ons hou, die meubels wat ons gebruik, ens. Ontwerp is ’n sleutelelement in ons fisiese wêreld en as sodanig kan ontwerpers ’n enorme rol speel om ons slegte gewoontes te verander. Ons kan moontlik nie die verbruikers beïnvloed om minder te koop nie, aangesien om te koop deel is van die menslike aard en van die ervaring wat ons graag wil hê wanneer ons ons produkte koop en geniet. Ontwerpers kan egter ’n wêreldse verskil maak as ons begin om meer volhoubare en omgewingsvriendelike produkte te maak. Oor die afgelope paar jaar het ’n aantal groot ontwerpers en besluitnemers oor ontwerpe geskryf, gepraat en denke rondom ontwerp deur hulle optrede en idees beïnvloed. Hierdie ontwerppioniers het een baie belangrike ding verstaan – dat ontwerp so kragtig is dat dit gebruik kan word om ons wêreld te verbeter of kan help om dit te vernietig.
DIE ONTWERPER EN ONTWERPKONSULTANT
ROBERTPETERS het die belangrikheid van ontwerp in die samelewing verstaan toe hy gesê het: “Ontwerp skep kultuur. Kultuur vorm waardes. Waardes bepaal die toekoms.”
“
Individue wat deur wat hulle skryf, hulle lesings en praktiese ontwerpe sosiale en omgewingsbewuste ontwerp aktief bevorder, sluit in Victor Papanek, Julie Bargmann, die produkontwerpmaatskappye Blue Marmalade en Animal Farm, asook Adriana Bertini, om slegs ’n paar op te noem.
*
’n Koolstofvoetspoor stel die hoeveelheid kweekhuisgasse (koolstofdioksied en metaan) voor wat deur ’n persoon, groep mense, aktiwiteit of stelsel vrygestel word. Jou koolstofvoetspoor kan gemeet word vir ’n enkele aktiwiteit, soos om met vakansie te gaan, of jy kan jou algemene daaglikse voetspoor meet. Jy kan ’n produk se voetspoor bepaal deur te kyk hoe dit gemaak is, gestoor, vervoer en vernietig word.