’n Goeie voorbeeld van materialisme wat hierdie hiperverbruikersbewustheid beklemtoon, sien ons op die volgende motorplakker:
“Hy wat met die meeste speelgoed sterf, is die wenner”
Kom ons kyk egter na die ander kant van die saak. Goeie, verantwoordelike reklame is veronderstel om jou te help om ingeligte besluite te neem oor jou leefstyl en die produkte wat jy wil koop. Dit is nie nodig dat hierdie benadering vervelig hoef te wees nie en dit kan jou onderrig, verstom, uitdaag en vermaak. Die oomblik wat ’n advertensie veroorsaak dat jy ontoereikend, beledig of gemanipuleer voel, het dit nie aan sy doel beantwoord nie.
Van julle kon al gehoor het dat die reklame- of ontwerpbedryf ’n moeilike werksomgewing is. Julle kon gehoor het dat ’n mens dinge moet doen waarvan jy nie hou nie, of produkte of dienste moet bemark waarin jy nie glo nie. Gelukkig het die reklamebedryf reeds ver gevorder om verantwoordelike boodskappers te wees vir die bedryf, en groot rolspelers in die reklame- en ontwerpbedrywe is gesteld daarop om hulle talente te gebruik om goed te doen, eerder as om te manipuleer, lieg (ja, dit gebeur!) of verbruikers ontoereikend te laat voel.
’n Paar jaar gelede is geen werk aanvaar wat maatskaplike ongeregtighede uitgedaag of verbruikers van ’n maatskaplike probleem bewus gemaak het en uitgenooi het om ’n verskil te maak nie. Maatskaplike bewussynsprojekte is vyf tot tien jaar gelede altyd aan die jongste en mees onervare persoon op die personeel gegee en dan ook net aanvaar vir die belastingverligting wat dit gebring het. Vandag baklei talle van die groter reklame- of ontwerpmaatskappye om hierdie projekte te kry en doen dit selfs pro bono (met ander woorde sonder vergoeding). Dis wonderlik dat so baie in so ’n kort tyd kan verander. Die bedryf het inderdaad verander!
?
HETJYGEWEET Suid-Afrika het ’n liggaam wat die reklamebedryf reguleer? Dit word die Gesagsvereniging vir Reklamestandaarde (GRS) van Suid-Afrika genoem en is ’n onafhanklike liggaam wat deur die bemarkings- en reklamekommunikasiebedryf in die lewe geroep is en word betaal om seker te maak dat sy stelsel van selfregulering in die belang van die publiek is. Die GRS het ’n voorsitter wat los van die bedryf staan. As jy ooit voel dat ’n advertensie nie eerlik of waar is nie, kan jy daar beswaar maak. Die GRS sê kortliks dat:
1.1 Alle advertensies wettig, betaamlik, eerlik en waar moet wees. 1.2 Alle advertensies ’n sin vir verantwoordelikheid teenoor die verbruiker moet hê. 1.3 Alle advertensies hulle aan die beginsels van billike mededinging in die bedryf moet hou. 1.4 Geen advertensie mag reklame diskrediteer of vertroue in reklame as diens aan die bedryf en die publiek laat daal nie. Uit www.asasa.org.za - vertaal
“
’n Verantwoordelike ontwerp hou egter nie slegs verband met die boodskappe wat jy oordra en die feit dat jy eerlik en waarheidsgetrou is nie, dit gaan ook oor werksetiek. Daar is talle dinge wat ’n ontwerper kan doen om meer verantwoordelik te wees, veral in die gedrukte media. Net deur bewus te wees van die beginsels van herwinning, te weet hoe om nywerheidsverwante besoedeling te voorkom, bio-afbreekbare materiale te gebruik en jou ekologiese letsel te verklein, kan jy reeds ’n groot bydrae tot ons omgewing lewer. Daar is ook baie maniere om dit te doen. Hier is ’n paar voorbeelde wat ontwerpers kan volg benewens die normale dinge wat almal kan doen, soos om ligte af te skakel en jou afvalpapier, plastiek en glas te herwin.