Grondige kennis van die geskiedenis van tipografie, stilistiese verwysings, tendense en die mode is noodsaaklik vir goeie gebruik van tipografie. Vir suksesvolle projekte kan jy nie sommer enige ou lettertipe gebruik, soos byvoorbeeld ’n gewilde een, of jou onderwyser se gunsteling en verwag dat dit ’n geslaagde keuse moet wees nie! Die lukraak keuse van ’n lettertipe binne die eng konteks van ’n opdrag is taboe vir enige waardige en talentvolle ontwerper. Kom ons kyk van naderby na die interessante wêreld van letters.
Ontwerpers leer die “persoonlikheid”, die stilistiese verwysing en die geskiedkundige betekenis van tipografie ken deur die geskiedenis van ontwerp te bestudeer en elke dag te kyk, waar te neem en na te vors. Hierdie kennis, tesame met ’n goeie begrip van jou opdrag, sal jou in staat stel om goeie en toepaslike besluite te neem oor die lettertipe wat jy gebruik. ’n Ontwerper hou nooit op leer oor tipografie nie!
Dikwels wanneer ’n lettertipe of afbeelding van “werklike” voorwerpe geneem word, byvoorbeeld deur ’n foto te gebruik van teksture wat jy op ’n muur kry, het dié lettertipe ’n egtheid wat baie moeilik op iets soos ’n rekenaar nagemaak of herskep kan word.
Ons het verlede jaar na ’n wonderlike voorbeeld gekyk wat die kleurvolle voorbeeld hierbo baie duidelik illustreer.
Onthou jy die afdeling oor Garth Walker en sy tipografiese ontwerp vir die Konstitusionele
Hof? Hy is deur die omgewing en geskiedenis van die Hof geïnspireer en het tipografie uit die omgewing gekies wat outentiek was ten opsigte van sy onderwerp. Geen rekenaargegenereerde lettertipe sou dieselfde eerlike uitbeelding van die inhoud gegee het nie.
Die volgende aktiwiteite en oefeninge gee aan jou ’n aantal keuses. Dit kan goed wees om eers deur almal te lees voordat jy jou finale keuses maak. Die eerste helfte maak voorsiening vir 2D- en die tweede helfte vir 3D-projekte. Natuurlik kan ’n kombinasie van 2D- en 3D-projekte ook wonderlik wees om jou portefeulje op te bou en vir jou ’n verskeidenheid vaardighede laat verwerf. Kom ons kyk wat jou onderwyser voorstel. Wat jy ook al op die ou einde doen, ons hoop dat jy hope pret sal hê. Al hierdie projekte is redelik uitdagend. Sterkte!