Hoe om byderwetse produkte verantwoordelik te vervaardig
SOOS VICTORPAPANEK GESÊ HET: “Daar is professies wat meer skade doen as industriële ontwerp, maar slegs ’n paar.”
Industriële ontwerp of produkontwerp, soos dit dikwels genoem word, is vir die moderne samelewing se behoefte aan verbruik en aan nuwe, beter en vinniger produkte, geblameer. Maar kan ons werklik die blaam op industriële ontwerp plaas? Sedert die Industriële Revolusie gedurende die 1700s en 1800s toe die vervaardiging van produkte met die masjien in plaas van met die hand gedoen is, was ons bederf met ’n keuse van produkte. Reklame, wat ook tydens hierdie periode ’n opbloei beleef het, het kliënte ingelig oor die waarde van nuwe produkte en waarom hulle dit “net moes hê”! Die vraag na produkte het toegeneem namate die tegnologie ontwikkel het, en die gevolg was dat nuwe produkte soos die mikrogolf voortdurend in die 1950s en 1960s ontstaan het. Die ingesteldheid bestaan vandag nog, aangesien talle verbruikers ’n opgegradeerde weergawe van selfone, seisoenale modes of nuwe modelle van voertuie sal koop, selfs al is dié wat hulle het nog goed. Ons redenasie vir hierdie aankope is dikwels geregverdig met stellings soos “my e-pos en internet sal vinniger wees op die nuwe foon” of “maar ek kan tog nie klere van die vorige somer dra nie!” Besef ons egter watter prys ons vir oorverbruik betaal? Die kweekhuiseffek, wat veroorsaak dat die planeet warmer word, besoedelde oseane en riviere, ontbossing, lugbesoedeling en die grootskaalse gebruik van grondstowwe is alles newe-effekte van ons gewoontes. Industriële ontwerp het dalk ’n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling van ons “swak” verbruikersgewoontes, maar talle industriële ontwerpers gee vandag die pas aan vir ’n volhoubare en omgewingsvriendelike toekoms. Twee groepe eietydse ontwerpers wat verantwoordelike ontwerppraktyke bevorder, is die Skotse ateljee Blue Marmalade en die Kaapstadse Animal Farm.
“
Die Blue Marmalade-stalletjie by die 2005 International Contemporary Furniture Fair (ICFF) wat in New York gehou is