Daar is al baie oor die gebruik van herwonne materiaal vir verpakking geskryf. Dit is egter nie naastenby so doeltreffend soos die idee om verpakking heeltemal te verminder nie. Soveel produkte op ons rakke word eers in plastiek verpak, dan in kartonbokse wat met nog ’n laag plastiek, karton of foelie bedek word. Ons noem dit oorverpakking en dit is selfs meer onverantwoordelik en gevaarlik as om slegs papier te gebruik wat gemaak is van oorspronklike pulp (papier wat gemaak is van “nuwe” pulp sonder enige herwonne pulp daarby). Ontwerpers moet deesdae daaraan dink of sekere projekte enigsins verpakking nodig het. Dit is ook ’n wonderlike oplossing as jy die verpakking ontwerp sodat dit op een of ander manier hergebruik kan word. Op hierdie manier beland die weggegooide verpakking nie op die vullishoop nie. Dit is ’n baie meer verantwoordelike benadering wat oorweeg kan word, selfs gedurende die aanvanklike ontwerpproses.
Talle ontwerpers gebruik nie drukkers of papier vir hulle projekte nie. Maak dit regtig saak of jou personeelbrief op papier of die rekenaarskerm is? Kan jou werknemers dit steeds lees? Dink aan al die papier wat ons kan bespaar as ons slegs elektroniese briefhoofde gebruik. Drukpraktyke soos die gebruik van ink met ’n oliebasis in plaas van met ’n sojabasis, die gebruik van foelie (silwer of goud vir spesiale afwerking) of vernis (areas op ’n bladsy of verpakking wat ’n glanslaag het as gevolg van ’n vernisbehandeling), die gebruik van te veel en ongewone groottes papier kan alles die omgewingsletsel van jou ontwerpbedrywighede laat toeneem. Net deur die gebruik van veiliger ink te bevorder, spesiale effekte te beperk en standaardpapiergroottes te gebruik, kan ons werklik die omgewingsimpakte en -kwellinge help oplos.
Daar is al baie gesê oor werk in die reklame- en ontwerpbedryf. Dit is harde werk, maar dit moet een van die aangenaamste en bevredigende loopbane wees wat daar is. Hoeveel mense wat jy ken, kan eerlikwaar sê dat hulle loopbaan vir hulle ’n passie is? Een ding is seker .. dit is nie so moeilik om geesdriftige ontwerpers raak te loop nie, en dit maak dit nog soveel meer interessant om in hierdie bedryf te werk!
Wat moet ’n mens dus doen om te studeer om ’n ontwerper te word?
Soos enige groot besluit in jou lewe moet jy jou huiswerk doen. Talle tersiêre instellings regoor die land bied Ontwerp as ’n studie-opsie aan – jy moet net besluit watter een by jou pas. En ja, dit is een van die grootste besluite wat jy in jou lewe gaan neem, gebruik dus jou tyd en maak seker dat jy die regte besluit neem. Die beste manier om te kyk of jy by ’n spesifieke instelling gaan tuis voel, is om ’n ontwerpdepartement by een of meer van die tersiêre instellings waarin jy belangstel, te besoek. Jy sal ook vind dat die meeste instellings, indien nie almal nie, webwerwe het wat hulle studievereistes sal verduidelik. Die meeste kampusse het ook ope-dae en dit is altyd ’n goeie idee om dit by te woon. Jy sal nie slegs na ontwerpe kyk wat studente van daardie instelling geproduseer het nie, jy sal ook aan die dosente en studente vrae kan vra. Hierdie ervaring kan jou baie help om te besluit of daardie omgewing vir jou kan werk en of dit aan jou verwagtings voldoen. Daar is gewoonlik ’n hele stel inligting beskikbaar wat jy huis toe kan neem. Jy moenie hierdie besluite te lank uitstel nie en onthou dat sluitingsdatums vir aansoeke by tersiêre instellings redelik vroeg in jou matriekjaar is, aangesien ’n keuringsproses ook moet plaasvind voor studente wat gekeur is, ingeskryf kan word.
’n Ander goeie manier om te sien of jy gelukkig gaan wees in die beroep is om óf ’n ontwerpateljee of -agentskap te besoek óf te gaan kyk by enige plek wat opleiding verskaf in die rigting waarin jy belangstel. Aangesien alle ateljees en agentskappe en talle privaat opleidingsgeriewe webwerwe het, behoort dit nie moeilik te wees om inligting te kry nie.