Die ontwerper het reguit lyne heeltemal vermy. Die grootste deel van die voorkant is met ’n mosaïek van gebreekte erdewerk versier. Dit begin met skakerings van ’n goud-oranje en gaan oor in groenblou kleure. Die dak is geboë en eindig in klein torinkies wat vergelyk kan word met die rug van ’n draak of dinosourus.
Die binneruimte toon die tipiese organiese vorms wat so kenmerkend is van die Art Nouveau- beweging. ’n Voorbeeld van die binneruimte kan op bladsy 159 gekry word.
Wiener Werkstätte (1897-1932)
’n Groep kunstenaars het onder leiding van Gustav Klimt van die gevestigde kunsorde weggebreek om die Weense Sesessie te begin. Hulle wou nie met akademiese geskiedkundig-georiënteerde tradisies van die stad verbind word nie. Die Wiener Werkstätte het in 1903 as uitbreiding van die Sesessie geopen. Dit is deur Josef Hoffmann en Koloman Moser gelei.
Hulle verklaarde doelwit was die “najaag van kuns en gehalte in alle handwerk”.
Hulle het begin om beperkte lyne van meubels, metaalwerk, tekstiele, glas en keramiekwerk te produseer. Hulle het inspirasie uit die Kuns- en Handwerkbeweging van William Morris gekry. Hulle werk het egter ’n groter gevoel van luuksheid gehad as die werk van die Britte.
.
Josef Hoffmann – herfsblare
Carl Otto Czeschke, ongetitel 1912
Hierbo is die logo van die Wiener Werkstätte. Let op hoe bekend die simbool in die middel is. Herinner die logo jou aan ’n maatskappy wat jy ken?