As ontwerpers het ons ook begin verstaan dat ons ’n groot verantwoordelikheid teenoor ons kliënte het, maar ook ’n sosiale/maatskaplike verantwoordelikheid sowel as ’n verantwoordelikheid teenoor die omgewing. Ontwerpers is in wese kommunikeerders, en ons het die geleentheid om ’n verskil te maak! Ons speel dikwels ’n klein rolletjie, maar ontwerpers kan ’n groot impak maak. Ons moet hierdie geleenthede aangryp om ’n verskil te maak, en dit begin by jou!
6 PROJEK
In die lig van wat ons op die vorige twee bladsye bespreek het, wil ons graag hê dat jy ’n omgewingskwessie of probleem moet identifiseer wat jy kan aanpak om jou onmiddellike omgewing te verbeter. Dit kan redelik eenvoudig wees, soos ’n veldtog om julle skoolterrein skoon te hou, of dit kan iets meer ingewikkeld wees, soos om julle buurt sover te kry om verskeie materiale te herwin!
Bestee ’n bietjie tyd om op jou tema te besluit, eerstens omdat dit ’n kwessie moet wees wat vir jou self iets moet beteken, en tweedens omdat dit iets is wat oorgedra sal word om deel te vorm van die werk wat jy in die vierde kwartaal gaan doen.
Hierdie veldtog wat jy gaan aanpak, het ’n identiteit nodig. Ons noem hierdie eerste stap in die ontwerp van ’n identiteit ’n logo.
WAT IS ’N LOGO?
Ons gaan tyd bestee hieraan, aangesien die ontwerp van ’n logo grootliks onderskat word en dit baie moeiliker is as wat dit lyk. ’n Logo is ’n herkenbare grafiese ontwerpelement; dit kan ’n naam, simbool, handelsmerk of kombinasie hiervan wees en stel ’n organisasie, produk of diens voor. Dit probeer trouens om die amper onmoontlike te doen deur die hele “persoonlikheid” van ’n produk, onderneming of diens in een klein entiteit saam te vat. ’n Goeie logo sal die maatskappy van ander onderskei, herkenbaar wees, vertroue en bewondering inboesem en toepaslik wees vir die bepaalde maatskappy en bedryf. Die logo stel met ander woorde die beste beeld van die maatskappy op ’n toepaslike en bondige manier voor. Die logo hoef nie presies te wys wat die maatskappy doen of verkoop nie, maar eerder die etos en beeld wat dit wil oordra. Wat ons bedoel is dat Apple-rekenaars nie ’n rekenaar in sy logo het nie, en McDonalds het nie die beste burger en skyfies in sy logo nie! Tog het hulle albei baie geslaagde logo’s.
Wat is dus die eienskappe van ’n goeie logo?
• Dit moet eenvoudig wees! Dit is verreweg die belangrikste reël. Ingewikkelde logo’s raak baie gou verouderd, is baie moeilik om te reproduseer en jaag kostes op as jy spesiale tegnieke nodig het om ’n logo op ’n bofbalpet te borduur of te druk. Hierdie reël geld ook vir die gebruik van tipografie in ’n logo. Lettertipes wat nou hoogmode is, kan volgende maand ou nuus wees. Hou dit eenvoudig!