Die volgende teks is in die Helvetica lettertipe. Let daarop hoe verskillend dit van ander lettertipes is. Watter een verkies jy?
Helvetica: Die Helvetica-lettertipe het onlangs 50 geword en om dit te vier, het Finlo Rohrer ’n artikel vir die BBC se nuustydskrif geskryf en dit genoem Helvetica at 50. Dit is vreemd om te dink dat mense so opgewonde kan raak oor ’n lettertipe Dit is per slot van sake net ’n manier om letters voor te stel. Waarom is Helvetica so spesiaal? Waarom word al hierdie artikels daaroor geskryf en is daar selfs ’n fliek daaroor gemaak? Die antwoord lê in ’n opmerking wat Finlo Rohrer in sy artikel gemaak het, naamlik “Helvetica se boodskap is die volgende: Jy gaan betyds by jou bestemming aankom; jou vliegtuig sal nie val nie; jou geld is veilig in ons kluis; ons sal nie die pakkie breek nie; die papierwerk is klaar; alles gaan reg verloop.”
Max Miedinger is deur die 1896-font, Akzidenz Grotesk, geïnspireer en het die lettertipe in 1957 saam met Eduard Hoffmann van die Haas-lettergietery, in Muenchenstein, Switserland, ontwerp. Dit is onmoontlik om te weet of Miedinger of Hoffmann kon geweet het hoe beroemd die lettertipe sou word. As jy in ’n winkel of in jou huis rondstap, sal jy die lettertipe oral sien – op jou elektroniese toerusting, op jou plastiekhouers, op jou klere en in die tydskrifte wat jy lees, Dit vul letterlik die wêreld waarin jy woon. Jy kan wel vra hoe dit moontlik is. Helvetica word as logotipe gebruik vir Panasonic en Tupperware, klere soos Gap gebruik Helvetica in hulle handelsmerk, en selfs Jeep, BMW, Post-It, The North Face en Nestle gebruik Helvetica, of aangepaste weergawes daarvan, in hulle logo’s en handelsmerke.
Die sukses van Helvetica kan aan die ontwerp van die lettertipe toegeskryf word. Dit is ’n sans serif-lettertipe met ’n geometriese inspirasie wat net so goed in ’n opskrif as in ’n blok digte teks werk. Die individuele letters is skerp afgebeeld met ’n sterk visuele samehang tussen woorde en sinne. Tydskrifte en maatskappye gebruik die lettertipe om leesbaarheid te verseker en om die gevoel oor te dra van betroubaarheid wat met die lettertipe verbind word. Dit kom daarop neer: as dit die Helvetica is nie, kan jy dit nie vertrou nie. Lars Mueller, wat die boek Helvetica: Homage to a Typeface geskryf het, sê dat Helvetica ’n korporatiewe lettertipe is, maar aan die ander kant is dit ook die gunsteling van haarkappers en kebabwinkels. Hierdie opmerking vertel van die universele aanwending van die lettertipe – een van die kenmerke wat dit so gewild gemaak het. Neue Helvetica is in die 1980s bekendgestel en daarmee is verseker dat die lettertipe vir nog 50 jaar gebruik sal word, indien nie langer nie.
Die sterk boodskap van vertroue en betroubaarheid wat Helvetica oordra, is ook in ander sans serif-lettertipe opvallend. Sekere tipes lettertipe kommunikeer sekere en baie spesifieke idees of boodskappe, wat visueel aan “kategorieë” van lettertipe verbind kan word. Die Association Typographique Internationale (ATypeI) het in 1962 ’n lettertipe-klassifikasiestelsel aanvaar wat deur Maximilien Vox in die 1950s ontwikkel is. Hierdie stelsel het bekend geraak as die Vox-ATypeI- klassifikasie en het lettertipe in elf hoofkategorieë volgens hulle belangrikste eienskappe soos x-hoogte, serif-details, ens, geplaas.