As jy nie ’n gretige kunstenaar is wat heeltyd met jou sketsboek rondloop nie, moet ons jou nou dadelik na hierdie lang vakansie aan die gang kry. Onthou, om jou tekenvaardighede te ontwikkel, is nie slegs om te teken nie, maar ook om jou vaardighede te ontwikkel sodat jy ’n wonderlike ontwerper sal word. Ons praat van waarnemingsvaardighede, aandag aan detail en laastens, maar beslis nie die minste nie, die ontwikkeling van konseptuele vaardighede. Ons beskou teken ook as noodsaaklike vaardigheid om vir jou al hierdie ander vaardighede te leer.
Die eerste paar aktiwiteite kan dus gesien word as opwarming en die begin van een van die kragtigste kreatiewe handelinge wat vir jou goed te pas sal kom as jy na matriek vir ’n ontwerp- of argitektuurskursus wil aansoek doen. Jy moet onthou dat dit nie saak maak in watter vakgebied jy uiteindelik wil spesialiseer nie, jy moet altyd ’n goeie tekenportefeulje ingee as jy in aanmerking wil kom om verder te studeer. Iemand se tekenvaardighede kommunikeer baie van daardie persoon se vermoëns en potensiaal. Kry dus daardie tekentoerusting reg en maak die sketsboek oop as jy dit ernstig oorweeg om jou kreatiwiteit te verbeter.