Gedurende die Middeleeue is daar ook ’n aantal Islamitiese manuskripte geproduseer. Vroeë Islamitiese manuskripte was meestal wetenskaplike geskrifte, maar latere manuskripte het letterkundige werke soos gedigte en geskiedkundige verslae, asook talle godsdienstige temas ingesluit. Die Islamitiese heilige boek, die Koran, is gedurende hierdie tydperk ’n aantal keer geproduseer. Die Koran het geen illustrasies van figure gehad nie, maar in plaas daarvan was die dekoratiewe elemente van die manuskrip die kalligrafie wat vir die teks gebruik is. Die ontwikkeling van talle vroeë Islamitiese lettervorms en kalligrafiese style is die direkte gevolg van handgeproduseerde Islamitiese manuskripte van daardie tydperk. Islamitiese kunstenaars is ook deur handelaars aan Chinese kalligrafie en kuns bekend gestel en dit het ’n impak op die ontwikkeling van hulle styl gehad. Islamitiese kalligrafie is waarlik ’n oefening in balans tussen boodskap en voorkoms, en is een van die prominentste elemente in Islamitiese kuns en ontwerp. Kalligrafie word nie tot papier en boeke beperk nie, maar kan as deel van gebouoppervlakke en selfs in mosaïekteëls gesien word.
“Boek van Ure”: Hierdie hersiene spirituele boek is in 1420 in Vlaandere vir ’n Britse klant geproduseer. Die manuskrip is op velyn (behandelde kalfsvel) geproduseer
Islamitiese manuskrip. Hierdie ongedateerde kopie van die Koran is tydens die Middeleeue geproduseer. ’n Sleutelkenmerk van Islamitiese ontwerp is die gebruik van niefiguratiewe ontwerpelemente. In hierdie voorbeeld skep goue wolke met wingerd- en blomknoppatrone ’n dekoratiewe samehang regoor die dubbelbladsy.