Musiek is ’n sleutelkomponent van die 80s se populêre kultuur. Ikone soos Madonna en Michael Jackson het ons nie net met hulle musiek vermaak nie, hulle het ikone geword wat die modes beïnvloed. MTV is in 1981 bekendgestel en het ’n nuwe dimensie aan musiek gegee – die musiekvideo. Madonna met haar kanthandskoene, gewaagde uitrustings, gepluisde hare en oorvloedige bykomstighede, en Michael Jackson met sy leerbaadjie en een handskoen het met hulle oordadige musiekvideo’s visuele ikone geword.
’n Stilfoto van Michael Jackson se kortfilm Thriller van die album met dieselfde naam.
Madonna
Die 80s het ook die bekendstelling van hiphop-kunstenaars en -kultuur beleef. Groepe soos Run DMC, DJ Jazzy Jeff en The Fresh Prince, Public Enemy en die Beastie Boys het tot die vestiging en erkenning van hierdie genre bygedra. Hiphop verwys na die wyer kultuur en sluit rap, platejoggies, MC, sampling, beat boxing, briekdanse en graffiti in. Hiphop-danse, wat ook briekdanse genoem word, en graffiti vorm deel van die visuele hiphop-uitdrukking. Hierdie hiphop-kultuur en graffiti het in die 80s en 90s versprei en na die hoofstroom populêre kultuur oorgeloop. Graffiti word vandag in verskeie advertensies gebruik en kunstenaars soos Banksy het wêreldbekend geword vir hulle graffiti. As gevolg van die aanvaarding deur die hoofstroom van die rebelse en teengesag-boodskap van hiphop-musiek het dit deur kommersialisering sy trefkrag verloor. Hiphop as ’n musiekstyl en kultuur het in talle subgenres gediversifiseer en is steeds vandag baie invloedryk in modes, musiek, graffiti en die multimedia. Hiphop-modes van die 1980s het bestaan uit handelsmerkklere en bykomstighede soos sportdrag, tekkies, oorgroot sonbrille en swaar juwele (hoofsaaklik goud, maar gedurende die 90s en 2000s het ander edelmetale en veral diamante gewild geword).
Talle hiphop-mode-items en -style vorm vandag deel van die populêre kultuur.