Onthou om kennis te neem van die volgende: Jy moet by die filosofie van die Bauhaus hou – eenvoud en funksionaliteit is baie belangrik. Dit beteken egter NIE dat dit vervelig moet wees nie! Kies ’n lettertipe – onthou dat jy reeds in die eerste module geleer het oor spesifikasies vir naamborde op groter oppervlakke en dat ’n sans serif-letterbeeld die beste sal werk. Iets anders waarna jy moes oplet, was dat tipografie op daardie skaal makliker lees wanneer die letters omgekeer is – dit beteken ’n gekleurde agtergrond met wit of ligte kleur tipografie daarop. Onthou wat oor kontras gesê is? Dat daar ’n baie goeie kontras tussen voorgrond en agtergrond moet wees anders is dit moeilik om te lees? Spasiëring tussen letters moet ook ruim wees sodat dit makliker gelees kan word.
Die vier verskillende rigtingwyselemente/kategorieë (oriëntering, rigting, bestemming en situasie-/voorwerp-identifikasie) het almal verskillende funksies. Hulle kan dus nie eenders lyk nie! Daar moet ’n klein verskil wees in jou hantering van die teken wanneer dit rigting aandui of wanneer dit ’n bestemming aantoon. Dink na oor die funksie van ’n spesifieke teken: rigting moet ’n spesifieke rigting aantoon. Die voor die hand liggendste oplossing is ’n pyl. Kan jy aan enige ander slim maniere dink om te wys watter rigting ’n mens moet inslaan? Hou altyd die ekonomie van jou ontwerp in gedagte. Dit moet eenvoudig en funksioneel wees sonder om die mense wat dit sien, tot die dood toe te verveel. Maak gebruik van jou ontwerpelemente; gebruik jou begrip van skaal, beeldafsnyding en hoeke en hou in gedagte dat jy moet seker maak dat ’n sterk kontinuïteit deur al jou ontwerpe loop.
Twee voorbeelde van afgesnyde tekens. Nie al die tipografie is op die bord nie – dele van die letters is afgesny. Soos jy kan sien, is die afsnyding egter só gedoen dat dit nie die leesbaarheid wegneem nie – dit het visueel ’n meer dramatiese effek.
Vra jouself af watter oplossing jou gebou die beste pas. Moet tekens altyd uit die dak hang? Talle geslaagde rigtingwysstelsels is op die vloer of op die mure geverf. Kyk na die styl van jou gebou – jou rigtingwysstelsel moet ook die styl van die gebou navolg. Daar is dus ’n klomp dinge waaraan jy moet dink. Maak volledige aantekeninge sodat jy hierdie inligting kan gebruik om uiteindelik die styl en toepassing van jou finale naamborde te motiveer. Soos gewoonlik hou die beste onwerpers in die wêreld nooit op kyk en leer nie. Doen dus baie navorsing en probeer om die probleem werklik te verstaan voordat jy inspring en dit probeer oplos. MOENIE iemand anders se werk naboots nie. Die meeste rigtingwysstelsels gebruik kleur as ’n manier om byvoorbeeld te onderskei tussen inligting op verskillende vloere (julle weet almal waar om ’n motor in die parkade te soek as jy die KLEUR en die NOMMER onthou van die vloer waar jy dit geparkeer het!) Ook, wanneer ’n gebou verskillende afdelings het, kan kleur ’n wonderlike manier wees om te help met oriëntering. Kies kleure versigtig: hulle moet genoeg van mekaar verskil om nie te verwar nie, maar die palet wat jy kies, moet ook pas by die tipe gebou waarvoor jy dit ontwerp. Wanneer jy ’n rigtingwysstelsel vir ’n skool met jong kinders ontwerp, sal jy dit anders hanteer as wanneer jy vir ’n groot lughawe of korporatiewe gebou moet ontwerp. Jou besluite moet altyd toepaslik wees. Wanneer jy sketse maak om voor te lê, moet ten minste die naamborde in die korrekte kleur wees, maar die hele aanbieding moet verkieslik in kleur wees, aangesien dit ’n beter voorstelling van die werklike omgewing sal wees.
Wanneer jy jou tekens ontwerp het en ’n skets of sketse van die binnekant gemaak het, bied dit op ’n professionele manier vir jou onderwyser aan.