Dit lyk maklik – die kliënt sal vanselfsprekend wil hê dat die veldtog die produk of diens so positief as moontlik voorstel – maar dit moet begeerlik en noodsaaklik lyk. Die moeiliker aspek van hierdie vraag is egter wat ons ’n UVP, of unieke verkoopspunt noem. Die UVP is die enkele sterk boodskap wat hierdie produk/diens van sy mededingers sal onderskei. ’n Produk of diens kan baie goeie punte of kenmerke hê, maar jy moet die een boodskap waarop jy die verkoopsveldtog sal bou, onderskei.
Hoe gaan ek dit sê?
Die laaste vraag wat jy ten opsigte van ’n reklameveldtog moet vra, is die “hoe?”. Dit is veral waar kreatiwiteit inkom en ’n noodsaaklike rol in die bou van ’n suksesvolle veldtog speel. Die vorige twee vrae wat te doen het met navorsing en die produk wat reeds bestaan, bepaal die antwoorde. Dit is op feite gegrond en in die meeste gevalle is daar geen argument oor die teikenmark nie – dit moet net omskryf word. Die “hoe” is egter elke keer anders. Die agentskap moet ’n dinkskrum hou om die interessantste en onvergeetlikste manier te kry om die “storie te vertel”.
Die rol van reklame
Die advertensie moet ’n paar dinge vermag om as baie goed gereken te word. Daar is dus ’n paar vrae wat jy moet vra wanneer jy ’n advertensie ontleed of ontwerp. Eerstens moet dit altyd die produk as “koning” voorstel.
Jy moet dit nooit vergeet nie!
Mense moet dit onthou! En wel om die regte redes. Ons lag soms vir ’n advertensie op die TV, vertel dit aan ’n vriend, en as ons wil onthou watter produk geadverteer word, kan ons nie onthou nie. Ons onthou die advertensie vir die humor, maar nie vir die boodskap/produk nie. As ’n advertensie besonder sleg is, kan ons dit dalk ook onthou, maar weer eens om die verkeerde rede!
Dit moet ’n emosie ontlok. Ons ken almal die toiletpapieradvertensies met die klein hondjies en die babas wat ons moederlike instink aanwakker, maar emosie kan ook woede insluit oor ’n onreg, ongerief of iets wat ’n mens skaam maak. Dit kan geluk en vreugde, blydskap en tevredenheid ontlok, of jou laat lag as gevolg van die satiriese inhoud daarvan.