“Design for the Real World”, voor- en agterblad (hierdie uitgawe is in 2009 gepubliseer)
Jy kan jou net indink watter impak so ’n stelling in die vroeë 1970s gehad het! Ontwerpers het gedurende die 1970s nie gedink aan die impak wat hulle ontwerpe op die omgewing of op die verbruiker kon hê nie. Verbruikers in die vroeë 1970s het nie aan aardverwarming gedink nie, hulle was nie blootgestel aan die impak van massaproduksie nie en hulle het nie hulle eie rol daarin verstaan nie. In hierdie opsig was “Design for the Real World” en die idees in die boek sy tyd ver vooruit. Talle ontwerpers in dié tyd het Papanek verag dat hy uitgewys het dat ontwerpe van die tyd gebrekkig en selfs gevaarlik was, en dat talle produkte heeltemal onnodig was. Papanek het nie verstaan hoe ontwerpers bewustelik produkte kon skep wat onveilig of onnodig was, of wat ’n kort lewensduur gehad het net om ’n groter vraag te skep nie, en ook op so ’n wyse geproduseer het dat dit ’n negatiewe impak op die wêreld as geheel gehad het. Hy het gemeen dat elke verbruiker moes oorweeg of hulle die produk wat hulle koop werklik nodig gehad het, en wat ook of dit slegs so goed geadverteer is dat hulle geglo het dat hulle nie daarsonder kon klaarkom nie. Die idee dat ’n produk ’n geskiedenis en ’n lewensiklus gehad het, was ook ’n konsep wat Papanek ondersoek het – die afval wat deur ’n ou produk geskep word, is nie slegs afval wat deur die produk geproduseer word nie. ’n Mens moet ook dink aan al die materiaal, hulpbronne en vermorsing wat betrokke is by die vervaardigingsproses, vervoer en verskeping (hierdie idee sou ontwikkel in ’n produk se lewensiklus-ontleding).
Victor Papanek Vir Papanek was ontwerp ’n metode om nodige produkte of stelsels te verbeter, of om idees te skep
wat die lewens van mense kon verbeter. Papanek het geglo dat ontwerpers items moes produseer wat deur talle verskillende gebruikers gebruik kon word, insluitend ouer mense en gestremdes. Hierdie fokus in sy werk kan vandag verbind word met moderne inklusiewe ontwerppraktye . Die Britse instituut vir standaarde het dit beskryf as die ontwerp van produkte en dienste wat deur soveel mense as moontlik gebruik word, ongeag ouderdom, geslag, fisiese vermoë, ens.