Kom ons ondersoek die gebruik van tipografie in ons daaglikse lewens. Hierdie oefening sal jou beslis meer van die tipografie om jou bewus maak. Dit sal van jou vra om na interessante en toepaslike gebruik van letters in jou onmiddellike omgewing te soek, en jou bewus maak van hoe uiteenlopend en wonderlik die wêreld van die letter werklik is. Hierdie aktiwiteit sal jou ook help om skerper waar te neem, wat ’n kragtige vaardigheid is wanneer jy ’n baie goeie ontwerper wil word.
STAP1
Stap in jou buurt rond en soek na al die verskillende gebruike van verskillende letters.
Jy kan oplet na die styl van die advertensiebeeld op die sykant van ’n konstruksievoertuig, en dan ’n heeltemal ander styl van ’n letter raaksien in ’n winkelvenster wat modeklere verkoop. Kyk na die letters wat op straatname en padtekens gebruik word. Kyk hoe die styl verskil. Soek nou na nog voorbeelde van ’n letter wat ’n spesifieke toepassing het.
Teken die verskillende voorbeelde op. As jy ’n selfoon of ’n kamera het, kan jy dalk foto’s van verskillende toepassings neem en dit in jou werkboek plak. As jy nie toegang tot ’n kamera of selfoon het nie, maak ’n paar sketse terwyl jy rondstap en jou buurt ondersoek of na voorbeelde in tydskrifte soek.
STAP2
Kies ses verskillende voorbeelde van letters tussen jou foto’s of tydskrifknipsels.
Teken ’n stel blokkies van 80 mm x 80 mm en knip die beelde uit sodat dit presies in die verskillende blokkies inpas. Kyk na die voorbeeld op die volgende bladsy as jy hulp nodig het. Dit is ’n wonderlike manier om tipografie op ’n vars en nuwe manier te gebruik sonder om ’n spesifieke letter te gebruik. Jy kan byvoorbeeld ’n collage van karakters (letters of syfers) gebruik om ’n plakkaat vir ’n musiekkonsert by julle skool te maak! Dit sal egter waarskynlik nie so geslaagd of toepaslik wees as jy ’n plakkaat vir iets soos geweld teenoor vroue of ’n ander ernstige onderwerp moet maak nie. Jy moet altyd bewus wees van die toepaslikheid van die gebruik van die letter wat jy kies.