Talle ontwerpstyle van die 1970s weerspieël die aggressie van hierdie tydperk. Advertensies en grafiese ontwerp was meer aggressief, konfronterend en skokkend, terwyl produkte dikwels hoekig en geometries geword het – teenoor die sagte rande van die 50s en 60s. Die Lamborghini Countach, in 1971 deur Marcello Gandini by Bertone ontwerp, is ’n voorbeeld van die ontwerpstyl met harde rande wat in die 1970s gewild geword het.
Die 1971 Lamborghini Countach met sy kenmerkende harderandstyl. 1980S
Ekonomiese en sosiale probleme het tot in die 1980s voortgeduur. Oorloë, soos die Iran-Irak-oorlog, het internasionale nuus geword en talle Westerse lande het skuldprobleme gehad en ekonomiese resessies ervaar. Die Tsjernobil-kernaanleg het in 1986 ontplof – die ergste kernongeluk in die geskiedenis – en die NASA-ruimteskip Challenger het sekondes na hy opgestyg het, ontplof. Ethiopië het regdeur die 1980s droogtes ervaar, wat gelei het tot wydverspreide voedselskaarstes en hongersnood. Die Suid-Afrikaanse oorlog teen Angola, Zambië en Namibië het tot in die 80s aangehou en uiteindelik in 1989 tot ’n einde gekom. Hierdie gebeurtenisse is slegs ’n paar van die groot sosiale, ekonomiese en politieke probleme tydens die 80s, maar die dekade was ook vol van ongelooflike vooruitgang en bewuswordings wat deel van die populêre kultuur sou word.
VIGS-BEWUSTHEID HET ’N WÊRELDWYE FOKUS GEWORD
Die wêreld het in die 1980s van vigs bewus geword en die siekte, moontlike behandelings en die bewustheid daarvan, het sedertdien deel van die populêre kultuur geword. In Suid-Afrika, die land met die hoogste MIV-infeksiekoers, bly ’n bewustheid van MIV/vigs noodsaaklik. Die gewilde Live Aid- musiekkonserte met die doel om ’n bewuswording te kweek en geld in te samel vir dié in nood, het in 1985 begin toe die eerste konsert daarop gefokus het om mense bewus te maak van mense in Ethiopië wat van die honger sterf. In die vroeë 1980s het die Commodore 64- en die Macintosh-rekenaar wat deur Apple geskep is, die eerste twee rekenaars geword wat suksesvol die persoonlike rekenaarmark betree het. Die impak van hierdie tegnologie en verdere ontwikkeling het die wêreld geskep waarin ons vandag leef. Gewilde videospeletjies het ook by die tegnologiese vorderings gebaat, en speletjies soos Donkey Kong, Tetris en Pac-Man het deel gevorm van die populêre kultuur.