Die iPod maak dit makliker om musiek te luister terwyl jy rondbeweeg, dit het meer ruimte vir liedjies (die eerste generasie is bekend gestel dat dit vir jou “1 000 liedjies in jou sak” gee en is ontwerp om slank, drabaar en gebruikersvriendelik te wees). Die lywige ontwerp en dikwels verwarrende koppelvlakke van digitale toestelle van die 1990s was iets van die verlede. Jonathan Ive, ’n industriële ontwerper, het die eerste generasie iPod ontwerp, en Apple se ontwerpe sedert die vroeë 2000s word aan hom toegeskryf. Apple het aangehou om hulle reekse uit te brei en dit sluit vandag selfone, draagbare musiek- en stoortoestelle in, almal met ’n belangrike fokus op die ontwerpaspek op alle vlakke, hetsy die koppelvlak of die estetika van hierdie produkte. Beide die Apple-toestelle en Apple se visuele media en reklame vorm deel van die huidige populêre kultuur. Die plat, afgetekende figure wat in Apple se veldtog gebruik word, is onmiddellik herkenbaar.
Eerstegenerasie- iPod
Die Apple-advertensie vir die iPod. Apple het ’n baie eenvoudige vektorstyl gekies vir advertensies wat maklik verstaanbaar en dadelik herkenbaar was.
Die ontwikkeling van verskeie digitale dienste vorms slegs een deel van die effek wat tegnologie op populêre kultuur het, die ander hou verband met digitale omgewings. Vir die eerste keer in die geskiedenis kommunikeer ons meer deur toestelle as van aangesig tot aangesig. Selfone, e-pos, werfjoernale (blogs), Tweets, opdaterings, ens. vorm alles deel van moderne kommunikasie. Die digitale omgewings waaraan ons deelneem soos Facebook, Twitter en My Space (sosiale media genoem) het die manier verander waarop ons met mekaar in kontak is en kommunikeer. Die internet het ook die manier verander waarop ons inligting hanteer – ons maak nie langer staat op koerante, TV en radio om ons oor die wêreld in te lig nie, ons kan self inligting oplaai wat onmiddellik vir almal beskikbaar is. Die kitstoegang wat ons tot inligting van regoor die wêreld het, maak ons wêreld ’n baie klein plekkie, ’n *wêrelddorp. Alhoewel dit waarna ons kyk, waarna ons luister asook die toestelle en tegnologieë wat ons gebruik, deel van ons populêre kultuur vorm, is dit ons modes wat die grootste visuele aspekte van ons populêre kultuur vertoon.
Ons kleredrag, haarstyle en toebehore vertel die storie en vorm die visuele uitdrukking van ons idees, opinies en smaak. Modetendense word deur ikoniese figure soos musikante, filmsterre, sporthelde en ander populêre figure beïnvloed. Alhoewel ons nie hierdie individue persoonlik ken nie, lewe ons asof dit so is. Tydskrifte en vermaakprogramme lig ons in oor hulle verhoudings, teëspoed en probleme wat ons gunstelingsterre ervaar. Dis nie slegs vir ons wonderlik om te sien wie met wie uitgaan en wie onlangs uitmekaar is nie, ons aap ook hulle modes na. Hierdie konsep skakel aan assosiasie – deur soos ’n beroemde persoon aan te trek en te probeer lyk, hoop jy om ’n assosiasie te skep.
Ontwerper-jeans het ’n modestandaard geword. Guess van die 2011 Berlynse modeweek
*
’n Wêrelddorp: Hierdie frase is deur Marchall McLuhan bekend gemaak en verwys na die idee dat afstand- en tydverskille deur die internet en nuwe tegnologie irrelevant geword het. As gevolg van tegnologie is inligting oombliklik beskikbaar, ongeag hoe ver mense van mekaar af is – amper asof die hele wêreld slegs ’n klein dorpie is.