• Dit kan vir jou maklik wees om ’n yskasdeur oop te maak, maar dink aan iemand met twee gebreekte hande of ’n siekte soos artritis – die eenvoudige oopmaak van ’n deur kan ’n uitdaging word. Min Fisiese Inspanning as beginsel van universele ontwerp neem in ag hoeveel inspanning vir ’n gebruiker nodig is om die ontwerp te gebruik, en probeer om dit tot ’n minimum te beperk.
• Die laaste beginsel, Grootte en Ruimte vir Benadering en Gebruik, sê dat ’n ontwerp vir genoeg ruimte moet toelaat om die ontwerp te kan bereik en gebruik, ongeag die gebruiker se liggaamsgrootte of hulle vlak van beweeglikheid.
Die sewe beginsels van Universele Ontwerp is riglyne wat ontwerpers kan gebruik om hulle ontwerpe te hersien en verbeter. Dit is nie slegs produkte en geboue wat by universele ontwerp kan baat nie, maar ook verskillende kommunikasiestelsels.
In hulle boek Universal Principles of Design, beskryf William Lidwell, Kritina Holden en Jill Butler maniere waarop ontwerpers die bruikbaarheid van hulle ontwerpe kan vergroot, dit kan verbeter en die trefkrag groter maak. Hieronder is drie van hulle oorwegings vir ontwerpe wat met inligting en tipografie verband hou en wat ’n ontwerper kan gebruik om hulle visuele ontwerp en kommunikasie te verbeter.
Hoe om tipografie en inligting meer universeel te maak Inligting uit: Lidwell, W., Holden, K. and Butler, J. 2003. Universal Principles of Design. Massachusetts: Rockport Publishing
Lidwell, Holden en Butler (2003) het ’n aantal tipografiese oorwegings beklemtoon wat dit makliker maak om inligting te lees en te verstaan. Drie van hierdie konsepte is inlynstelling, ikoniese verteenwoordiging en leesbaarheid. Die eerste konsep, inlynstelling, verwys na ’n basiese tipografiese element (sien die opskrif “Die grondbeginsels van tipografie soos ons dit vandag verstaan” later in hierdie afdeling vir ’n algehele oorsig van die verskillende tipografiese elemente). Ikoniese voorstelling en leesbaarheid is maniere waarop inligting gemanipuleer en voorgestel kan word om dit makliker te maak om te lees en verstaan.
INLYNSTELLING
Dit verwys na die manier waarop blokke teks inlyngestel word deur na die rande van die blokteks te kyk. ’n Blokteks kan al die sinne só gerangskik hê dat óf die linker- óf die regterkant van die blok ’n reguit horisontale rand het of die sinne kan om ’n sentrale punt gerangskik word. Al die verskillende komponente in ’n ontwerp of uitleg moet met mekaar of met die bladsy inlyngestel word. Deur elemente in lyn te stel kan jy ’n visuele eenheid in die ontwerp skep. Natuurlik is die teenoorgestelde ook waar en jy kan items op ’n ongelynde manier plaas om chaos voor te stel, of om ’n gevoel van samehang in die ontwerp te vermy. Onthou net dat voordat jy ontwerpelemente manipuleer, jy moet seker maak dat jy duidelik verstaan wat hulle funksie is en hoe hulle die ontwerp beïnvloed. Wanneer jy besluit om sekere items in lyn te stel, sal die kyker hierdie items “lees” as dat hulle saam hoort. Op hierdie manier kan jy beplan hoe inligting gelees en verstaan word
IKONIESE VOORSTELLING
Dit is ’n baie eenvoudige beeld wat die aksie of voorwerp voorstel waarna daar verwys word, byvoorbeeld ’n visstok stel die idee van visvang voor, of ’n mes, vurk en bord stel ’n restaurant voor. Daar is talle verskillende tipes “ikone” soos musiek-ikone, godsdiens-ikone en ikone wat belangrike inligting oordra. Ikone wat inligting oordra, is ’n baie belangrike deel van ons lewens. Dink aan selfone. Selfs as jy ’n splinternuwe foon kry wat jy nog nooit voorheen gesien het nie, sal jy dit kan beantwoord as dit lui. Waarom is dit so? Omdat ons weet dat die ikoon van die groen foon beteken dat jy dit beantwoord of ’n oproep moet maak, terwyl die rooi foon beteken dat jy die oproep beëindig. Ikone kan ook in advertensies en logo’s gebruik word, soos Nike se “swoesj”.