Jacobus Oud, ’n Nederlandse argitek en navolger van De Stijl, het tussen 1918 en 1933 die munisipale behuisingsargitek van Rotterdam geword. In hierdie tyd het talle arbeiders stad toe getrek op soek na werk en dit het ’n ander behoefte op die gebied van argitektuur geskep. Oud het dus meestal op maatskaplik-progressiewe woonhuisprojekte gefokus.
Om aan die psigologiese behoeftes en estetiese verwagtings van die gebruikers te voldoen, was ’n “wetenskaplike” kostedoeltreffende konstruksietegniek ’n saak van dringendheid. Oud se antwoord op hierdie probleem was om ’n “poëtiese funksionalisme” (pragtig, verhewe en besielend) toe te pas.
Hy was in 1927 een van die vyftien argitekte wat baie tot De Stijl bygedra het en die modernistiese beweging beïnvloed het.
Primêre lede van De Stijl Piet Mondrian – Hollandse kunstenaar van Amersfoort. Stigter van De Stijl Theo van Doesburg – Hollandse kunstenaar, digter, argitek van Utrecht. Stigter en leier van De Stijl Gerrit Rietveld – Hollandse argitek, meubelontwerper van Utrecht Bart van der Leck – Hollandse skilder, ontwerper, keramiekkunstenaar van Utrecht Georges Vantongerloo – Belgiese abstrakte beeldhouer, skilder van Antwerpen (stigterslid) J. J. P. Oud – Hollandse argitek van Wassenaar Robert van ‘t Hoff – Hollandse argitek en meubelontwerper van Rotterdam Vilmos Huszár – Hongaars-gebore grafiese ontwerper wat in Nederland gewoon het (stigterslid)
Invloede
• Beïnvloed deur: Nederlandse tradisie van logika, strengheid en duidelikheid. • Die Nederlandse filosoof en teosoof, Schoenmaekers, het hulle beïnvloed. Dis interessant om op te let dat sowel Mondrian as Kandinsky, wat die voorlopers van abstraksie was, teosowe was – ’n gewilde spirituele beweging wat in Indië sy oorsprong het.
• Schoenmaekers het ’n stelsel van positiewe mistisisme uitgewerk wat hy plastiese wiskunde genoem het en waardeur die natuur tot basiese verhoudings en teenoorgesteldes vereenvoudig kon word. Voorbeelde is: aktief/passief, manlik/vroulik, lig/donker en horisontaal/vertikaal. Sy wiskunde het alles in hulle eenvoudigste vorms afgebreek, byvoorbeeld sonstrale sou vertikaal wees en die aarde se beweging om die son horisontaal. Harmonie kon slegs bestaan as jy individualiteit prysgee. Lyn is byvoorbeeld as simbolies van iets anders gebruik: ’n vertikale lyn kon manlik – ruimte – staties – harmonie simboliseer; ’n horisontale lyn kon vroulik – tyd – dinamies – melodie simboliseer.
• Kubisme het vir De Stijl ’n wegspringplek gegee waarvandaan hulle hulle idees kon ontwikkel. • Analitiese Kubisme was ’n invloed, veral met hulle gebruik van gesentraliseerde beelde en horisontale en vertikale lyne.
• De Stijl het in ’n neutrale land teen die agtergrond van die Eerste Wêreldoorlog ontstaan. • De Stijl was teen individualisme gekant. Vir hulle kon saamwees in harmonie die pad na ’n utopiese toekoms wees.
• Vereenvoudiging in moderne argitektuur soos in die werk van Oud en Rietveld gesien kan word, het ook ’n groot invloed uitgeoefen.