Na die Eerste Wêreldoorlog het die belangstelling afgeneem totdat die bekoring en betowering van papierteaters in die 1960s herleef het en die praktisering van hierdie eeue oue “stokperdjie” weer wêreldwyd algemeen geword het. In vandag se wêreld waar rekenaars en elektronika toenemend ’n rol in alle kulture speel, kan die papierteater ’n welkome afleiding wees – weg van die stres en eise van ’n tegnologiese wêreld.
Daar is steeds talle plekke in Europa waar papierteaters ontwerp en gebou word. In Duitsland en Denemarke is daar gildes wat die talryke moontlikhede van hierdie medium ondersoek. Daar is ook ’n jaarlikse papierteaterbyeenkoms in Preetz in Duitsland (sien prent hierbo) wat duidelik toon dat daar steeds duisende mense is wat geïnspireer word deur hierdie antieke praktyk wat soveel nostalgie deur hierdie skeppende dissipline bring. Dit is vir hulle die moeite werd om hierdie ou Europese tradisie lewendig te hou. Die Preetz Papierteaterfees is die grootste internasionale byeenkoms van papierteaterkunstenaars in Europa, en waarskynlik in die wêreld. Dit is vir die eerste keer in 1988 gehou en vind elke jaar in September plaas, en word georganiseer deur ’n skool wat aandklasse vir volwassenes aanbied en genoeg ruimte het vir die opvoerings om plaas te vind. Die fees word van owerheidsweë deur die distrik van Schleswig-Holstein, die Plön-streek, en die dorpie Preetz, asook deur privaat keurders en borge ondersteun.
! STAP1
Doen asseblief die volgende aktiwiteite stap vir stap voordat jy die finale vertrek/ toneel begin skep. Onthou ook om die direkteur (jou onderwyser!) se riglyne te volg!
Deeglike visuele navorsing
Begin altyd deur visuele navorsing te doen. Dit is uiters belangrik dat elkeen ’n deeglike en grondige begrip moet hê van die gebruik van kleure, teksture, vorms en lyne wat verband hou met die spesifieke styl waarmee julle gaan werk en kennis sal dra van die voorste ontwerpers en hulle beste ontwerpe ken – amper soos om ’n kunshistorikus te wees!
Jy moet ’n A4- of A3-werkboek vol prente vir hierdie projek skep en deurgaans prente byvoeg namate jy na hoër vlakke in hierdie projek vorder. Onthou dat hierdie werkboek ’n bewys is van al jou harde werk – ’n dokumentasie van elke gedagte en navorsing wat jy gedoen het wat uiteindelik die besluit vir jou finale produk beïnvloed het. Daarsonder sal jy nooit ingeligte besluite kan neem nie en jou eindproduk sal ’n ramp wees!
Kies nou noukeurig en dra al hierdie inligting op gevoels- en storieborde oor!