Is daar enige toekomstige argitekte of ingenieurs onder julle? 3D-projekte het ’n ongelooflike manier om vir ’n mens ’n verskeidenheid vaardighede aan te leer, en veral as jy daaraan dink om ’n moontlike loopbaan in argitektuur of ingenieurswese te volg, pas hierdie projek jou soos ’n handskoen.
INLEIDING
Dit is ’n bekende feit dat vir eeue, papier, karton en rys papier of shoji gebruik is in die konstruksie van plaaslike behuising, veral in die aardbewing sensitiewe gebiede in Japan. Hoewel Japan tradisioneel karton gebruik as ’n goedkoop en veilige opsie as boumateriaal, het die gebruik van karton as ’n konvensionele Westerse boumateriaal nie bestaan nie.
Met die bekendstelling van innoverende binding, snitte en strukturele tegnieke, oorweeg argitekte en ingenieurs regoor die wêreld nou hierdie uiters laekoste, vervoerbare, liggewig, buigsame en herwinbare materiaal om ’n verskeidenheid duursame ontwerpe te skep – van huise tot brûe.
Kartonhuise kan gesien word as ’n prototipe wat nuttig vir toekomstige behuising gebruik kan word op ’n manier wat maatskaplik en omgewingsverantwoordelik is en esteties ontwerp is. Vir talle argitekte en ingenieurs is die gebruik van karton as boumateriaal die antwoord op die behuisingsprobleem regoor die wêreld!
Jy kyk in hierdie projek na karton as ’n substituutboumateriaal vir behuising in Suid-Afrikaanse townships en informele nedersettings.
Die Kartonhuis-projek behels verder dat jy ’n volledige skriftelike voorlegging uitwerk en ’n volledige sakeplan opstel, insluitend ’n toekomstige bemarkingsplan, asook ’n finansiële staat uitwerk wat aan enige belegger ’n deeglike insig sal gee van die koste en enige ander onvoorsiene uitgawes wat hulle kan teëkom.
Elkeen van julle moet ’n bloudruk van die ontwerp skep en dan ’n prototipe of model van die kartonhuis maak. Jy moet ook ’n lys van idees verskaf oor hoe om dit waterdig te maak. As jy meen dat jy ’n lewensgrootte model kan maak, probeer dit! Dit is egter nie verpligtend nie.
Jy word aangemoedig om regdeur hierdie projek na ’n verskeidenheid maniere te kyk om sterker karton te skep deur met verskillende strukturele moontlikhede te eksperimenteer. Hierdie oefening kan nogal ’n uitdaging wees, maar dis hoogs bevredigend!
Ons het gesien dat daar min is wat ’n mens níé met karton kan doen nie. Karton is werklik ’n “wondermateriaal”. Vir enigeen wat steeds dink dat karton iets minderwaardigs is om in te woon, dink weer – dit kan jou werklikheid vir die toekoms wees!