STAP3 Neem ’n skoon A4-papier en teken die voorletter of letter van jou keuse daarop. Geïllumineerde letters was meestal in bo-kas (hoofletters) en is altyd aan die begin van ’n sin gebruik, maar as jy wil en die vorm van die letter is sterk genoeg, kan jy onderkas (kleinletter) gebruik. Dit is regtig baie belangrik dat jy slegs ’n kleinletter kies wanneer jy werklik ’n sterk letter het, aangesien sommige letters wat nie sterk en bonkig genoeg is nie tussen die organiese detail van jou gestileerde beelde kan verdwyn. Maak seker dat dit sterk genoeg is om ’n visuele impak en ’n stelling te maak.
Soos by alle tipografie wat eie is aan ’n spesifieke tydperk, weerspieël die eienskappe van Art Nouveau se lettertipes die eienskappe van daardie tyd.
Aangesien dit jou persoonlike interpretasie is, hoef jy nie ’n spesifieke font of lettertipe vir hierdie projek te gebruik nie. As jy werklik meer akkuraat wil wees ten opsigte van hierdie styl, sal jy baie verwysings in jou biblioteek of op die internet kry. Dit is nie verpligtend om vanaf ’n spesifieke Art Nouveau-verwysing te werk om ’n sukses van hierdie projek te maak nie. Solank die motiewe, vorms en lyne van die visuele beelde die stilistiese eienskappe van hierdie beweging toon, kan jy omtrent enigiets kies wat jy wil. Kyk dus weer na die eienskappe van die styl en pas dit toe op die letter wat jy gaan gebruik.
Hier is ’n paar duidelike voorbeelde van Art Nouveau-lettertipes.