Plakkaat uit die Russies revolusie: Hierdie plakkaat beeld ’n eenpuntperspektief en formele komposisie, met ’n reghoekige illustrasie wat die hooffokuspunt vorm, uit.
Op soortgelyke wyse as die Duitse propaganda-plakkate tydens die Tweede Wêreldoorlog, stel Russiese plakkate revolusionêre figure soos Vladimir Ilyich Lenin as sterk, dominant en betroubaar voor. Lenin was die sleutelfiguur van die revolusie en die skepping van die nuwe *kommunistiese Sowjetunie. In een plakkaat (sien bladsy 58) word Lenin uitgebeeld waar hy ’n pak klere dra en wys na die verte wat die idee van “beweeg vorentoe” of selfs “val aan” kan voorstel. Onderaan die plakkaat is ’n aantal mense wat as navolgers van Lenin en ondersteuners van kommunisme uitgebeeld word. Hulle hardloop in die rigting waarna Lenin wys. Hierdie plakkaat stel Lenin en die kommunistiese navolgers as vegters vir vryheid en gelykheid teen die imperiale magte voor. Daar is ’n duidelike gevoel van dringendheid in die ontwerp van die plakkaat wat die kyker aanmoedig om by die geveg aan te sluit. In nog ’n plakkaat (sien bladsy 58) word Lenin nie self uitgebeeld nie, maar eerder die Leninistiese Jeugliga van die Sowjetunie. Hierdie plakkaat toon jong lede wat vol selfvertroue en doelgerig is en letterlik die vlag vir die kommunistiese ideale swaai. Die tradisionele rooi, swart en wit kleurskema wat met die Russiese ontwerp geassosieer word, kan in die meeste van die plakkate uit hierdie tyd gesien word.
*
Kommunisme: ’n maatskaplike stelsel of organisasieteorie waarin alle eiendom en ekonomiese aktiwiteite deur die staat of die gemeenskap as ’n eenheid beheer word.