Die Griekse alfabet, wat deur die Fenisiese alfabet beïnvloed is, kan tot ongeveer 1000 v.C. teruggevoer word. Die Griekse beskawing het egter nie slegs een metode gehad om hulle alfabet te ontwikkel nie, en gedurende die vroeë tydperke van die Griekse beskawing was daar talle verskillende skryfstyle wat in drie hoofkategorieë geval het. Die argaïese alfabette, die oostelike alfabette en die westerse alfabette. In 403 v.C. het die Atheners die Ioniese alfabet – die basis van die moderne Griekse alfabet – as die algemene Griekse alfabet aanvaar. Die belangrikste verskil tussen die Fenisiese en Griekse alfabet was die ontwikkeling van klinkers. Fenisiese konsonante is tradisioneel as basis vir ontwikkelende klinkers gebruik, byvoorbeeld die klinker “i” is van die letter “j” ontwikkel. Met die byvoeging van klinkers het die Griekse alfabet die eerste alfabet geword waar elke klank deur ’n ander letter voorgestel word. Die klassieke Griekse alfabet bestaan uit 22 letters van die Fenisiese alfabet en die vyf letters wat in klinkers omskep is. Elke letter in die alfabet het ’n naam gehad – beginnende met alpha en eindigend met omega. Aanvanklik was die Grieks letters slegs in hoofletters (bokas) geskryf en dit was eers in die Middeleeue (ongeveer 800 n. C.) dat ’n kleinletter ontwikkel is. Tydens die vroeë ontwikkeling van die Griekse alfabet is ’n sin of paragraaf van regs na links geskryf sonder enige spasies tussen die letters. Hierdie skryfstyl het in ongeveer 400 v.C. verander toe sinne van links na regs geskryf is (die manier waarop ons vandag Afrikaans lees en skryf).
Vroeë Griekse skrif: In hierdie voorbeeld van vroeë Griekse skrif kan jy oplet na die fokus op geometriese vorm en die vereenvoudiging van lettervorm. Hierdie voorbeeld toon die boestrofedon-skrif – waar jy in ’n sigsag-patroon lees; die eerste sin van links na regs en die volgende een van regs na links.
Gedurende die volgende 2 000 jaar het die basiese struktuur van die Griekse skrifstelsel nie baie verander nie. Daar was slegs ’n paar veranderinge aan die voorkoms van die letters. In ’n vroeë voorbeeld van Griekse letters (c. 600 v.C.) is die karakters reeds meer gestileer, met ’n fokus op geometriese letterkonstruksie wat geometrie gebruik om letters te skep sodat die letters ’n gevoel van balans en proporsie het. Dit toon egter ook die praktyk van boestrofedon-skrif, waar jy in ’n sigsag-patroon lees; die eerste sin van links na regs en die volgende een van regs na links. In die ander voorbeeld van Griekse skrif sal jy die duidelike struktuur en fokus op presisie oplet (sien bladsy 29). Ons het baie min voorbeelde van Griekse dokumente vandag oor, aangesien die meeste van hulle op papirus geskryf is en dit mettertyd gedisintegreer het. Die meeste van die bestaande voorbeelde van antieke Griekse skrif kan eerder as graverings op klip of op Griekse vase (potte) gevind word.