Die Industriële Revolusie was ’n tydperk vanaf die 18de tot die 19de eeu toe groot veranderings in landbou, vervaardiging, mynbou, vervoer en tegnologie ’n geweldige uitwerking op die sosio-ekonomiese en kulturele toestande van daardie tyd gehad het. Dit was ook die tyd van industriële ontwerp. Die Industriële Revolusie was ’n belangrike keerpunt in die mens se geskiedenis. Amper elke aspek van die daaglikse lewe is op een of ander manier beïnvloed. Die opmerklikste was dat die gemiddelde inkomste en die bevolking begin het om ’n onvoorsiene volgehoue groei te toon. Nywerhede is gemeganiseer. Sommige ontwerpers het dit aangegryp, terwyl
ander sterk daarteen gekant was.
In jou graad 10-boek is jy reeds aan die Industriële Revolusie en die Kuns- en Handwerkbeweging (gr 10: bladsy 294 – 295) bekend gestel.
Kom ons kyk weer gou na albei hierdie bewegings om jou aan van die belangrikste feite te herinner voordat ons aangaan met die bewegings wat daarop gevolg het. Dit is belangrik om dit te verstaan sodat jy ’n beter begrip kan hê van die geskiedenis en ontwikkeling van ontwerp en die wêreld waarin ons vandag leef.