Nog ’n ooreenkoms tussen die beskawings wat in Mesopotamië en Egipte ontwikkel het, was die rol wat godsdiens in hulle daaglikse lewens gespeel het. In Egipte het godsdiens die samelewing oorheers. Die gode en godinne van Egipte was in die natuur gevestig. Ra was die hoofgod van Egipte en het die son verteenwoordig, terwyl Amun die belangrikste Egiptiese god van die staat was (hulle is dikwels as enkele god, Amun-Ra, aanbid). Die son, wat elke dag die lug verlaat het om maar net die volgende dag weer te verskyn, het die konsep van kontinuïteit en hergeboorte verteenwoordig – hulle het geglo dat die son elke dag weer gebore word. Egiptenare het ook geglo dat wanneer iemand sterf, hulle van hierdie lewe na die lewe in die hiernamaals gaan. Daar is geglo dat die lewe in die hiernamaals ’n voortsetting is van die lewe wat op aarde ervaar is. Wat hulle gedoen het terwyl hulle geleef het, het hulle kanse beïnvloed om na die hiernamaals te beweeg, en offers aan Ra en ander gode was baie belangrik in antieke Egipte. Die gode het dikwels ’n menslike en dierevorm gehad, of sou deels dier en deels mens gewees het. Elke dorp of dorpie in Egipte het al die hoofgode gerespekteer en in hulle geglo, maar het ook spesifieke gode gehad wat vir hulle belangrik was. Hierdie gode is as beskermers van die dorp of dorpie gesien en hulle sou tempels gehad het en priesters wat aan hulle gewy is. Om seker te maak dat niks slegs, soos oeste wat misluk of siekte, voorkom nie, was dit baie belangrik om seker te maak dat die gode gelukkig is. Benewens Amun-Ra was ander belangrike Egiptiese gode, ook onder andere Aubis, die beskermer van die grafte en toesighouer oor mummifisering, wat die vorm van ’n jakkals aangeneem het, en die god met die valkkop, wat die god van die lug en beskermer van die farao was. Die farao van Egipte is ook as god vereer, wat beteken het dat die koninklike families ongelooflike mag oor die mense van Egipte gehad het.
Die *erflikheidslyn van Egipte se leiers
Daar was talle verskillende farao’s in die lang geskiedenis van Egipte – gewoonlik ’n seun wat na sy vader se dood farao sou word – dus was die vestiging van ’n geslagslyn van regeerders noodsaaklik. Alhoewel dit is hoe dit gewoonlik gewerk het, was daar ook ’n aantal beroemde vroulike konings (in antieke tye is die regeerders van Egipte konings genoem, al was hulle vroulik). Vroulike farao’s soos Hatsjepsoet en Cleopatra, die laaste Egiptiese farao, het ’n geweldige impak as leiers van hierdie magtige antieke beskawing gemaak. Honderde farao’s het Egipte regeer voordat die Grieke en die Romeine dit uiteindelik oorwin het. Die regeringstydperk van ’n enkele familie in antieke Egipte is ’n dinastie genoem, en die geskiedenis van Egipte word dikwels met betrekking tot hierdie dinastieë beskryf.
? *
HETJYGEWEETdat Cleopatra se familie Grieks was, en nie Egipties nie?
Sy was die laaste farao van Egipte en na haar selfmoord het Egipte amptelik ’n Romeinse staat geword.
Cleopatra VII soos sy moontlik tydens haar regering gelyk het. Hierdie borsbeeld toon duidelik die verskil in voorkoms tussen hoe Cleopatra werklik gelyk het en die Hollywood-weergawe wat die mense regoor die wêreld se verbeelding aangegryp het.
Erflikheidslyn: ’n Reeks regeerders of konings waar die kroon as geboortereg geërf is deur ’n toepaslike, gewoonlik manlike, erfgenaam.