Jy hoef dit nie “werklik” te doen nie, met ander woorde jy hoef nie in werklikheid ’n pretloop te organiseer en bekend te stel nie, maar die plan wat jy voorlê, moet haalbaar en werkbaar wees. Dit is onmoontlik om presies te sê wat elke leerder vir hierdie oefening moet doen, aangesien elkeen se projek sal verskil. Jy moet dus jou plan tot so ’n mate navors dat die dinge wat jy vir jou projek of plan kies, die beste moontlik oplossing vir jou probleem is. Jy, as ontwerper, sal verantwoordelikheid moet neem vir hierdie besluite en dit kan motiveer en verdedig. Maak dus seker dat jy ingeligte besluite neem.
Organiseer ’n veldtog of projek om óf die probleem op te los (rommel op die skoolterrein – kan met een geleentheid skoongemaak word), óf ’n veldtog wat jou oplossing aan die gang sal kry. ’n Pretloop sal byvoorbeeld geld insamel om ’n herwinningsprojek te begin, en dus is die pretloop ’n middel tot ’n doel. Die pretloop sal nie die herwinningsprobleem oplos nie, maar die bewustheid skep, en die geld wat ingesamel word, sal dit moontlik maak om jou projek te mobiliseer. Die veldtog kan so klein of so groot wees as wat jy wil, maak net seker dat jy die beste moontlike idee kies wat die grootste impak sal hê.
DIE MINIMUM HOEVEELHEID WERK SAL SOOS VOLG WEES:
Jy het materiaal nodig om ’n bewustheid te skep van jou gebeurtenis/veldtog wat ’n verskeidenheid opsies insluit. Jy kan ’n radio-advertensie skryf as jy daarvan hou om te skryf en om met klank te werk; jy kan jou advertensie of selfs ’n promosieartikel (artikel wat baie soos ’n advertensie is, maar baie meer inligting bevat) in julle plaaslike koerant plaas; jy kan plakkate ontwerp en by julle plaaslike winkelsentrums opplak en strooibiljette aan inwoners uitdeel of onder ruitveërs van motors by die plaaslike winkel sit. Die lys is eindeloos, maar jy moet slegs dié oorweeg wat die beste by jou veldtog sal pas en die meeste bewustheid sal skep oor wat gaan plaasvind.
Kyk goed na die omgewing waar jy die mense op die dag gaan huisves. Dinge om aan te dink, kan wees die naamborde vir vergaderpunte, inligtingstalletjies of areas vir verversingstalletjies as dit by jou konsep inpas. Sal die organiseerders of helpers iets hê of dra wat hulle van die res van die mense sal onderskei? Dalk kan die deelnemers iets skep om te wys dat hulle deel is van die veldtog – iets soos snaakse hoede uit weggooipapier of -karton. Gee ’n prys vir die beste een. Die moontlikhede is legio.
Dink laastens aan wat mense moet doen om die resultaat te kry wat jy soek. Het hulle sakke nodig? Het hulle handskoene, plakkers, of ’n hoed nodig? Watter gereedskap gaan hulle gebruik? Al hierdie dinge kan op een of ander manier ’n handelsmerk kry om te wys dat dit deel is van die veldtog. Aangesien alles wat verantwoordelik en volhoubaar is vir jou belangrik is, moet jy dalk glansplakkers op implemente vermy en eerder met handgetekende plakkate op herwonne materiaal werk. Om dinge met die hand te verf, kan natuurlik tydrowend wees en verhinder dat jy soveel as moontlik mense bereik. Jy kan dalk ander drukmetodes ondersoek, soos om ’n linosnee te doen waarmee jy dinge vinniger kan druk.
Hierdie gereedskap moet egter ook professioneel, ongelooflik netjies en goed gemaak wees. As iets met die hand gemaak word, is dit nie ’n groen lig vir ’n swak gehalte produk nie. Gebruik die volgende tabel om jou beplanning vir die veldtog te doen. Laat tyd toe om elke enkele aspek te kan uitvoer. Tydsbestuur is ’n onmisbare vaardigheid vir ontwerpers, aangesien ons wêreld om die voltooiing van werk voor die sperdatums draai.