Gebruik ’n A3-papier van ongeveer 205 mg dik. Gebruik jou versameling HB-potlode vir die finale tekening.
’n Voorgestelde stap-vir-stap-werkmetode
STAP1 Voordat jy met jou tekening begin, stel ons voor dat jy eers met ’n baie growwe skuurpapier oor die papieroppervlak skuur. Dit maak krapmerke op die oppervlak wat dit soos ’n ets laat lyk. Kontroleer eers of jy van die resultaat hou deur met ’n kleiner stukkie papier te eksperimenteer. As jy nie daarvan hou nie, maak jou tekening op die gewone oppervlak.
STAP2 Teken blokkie vir blokkie om te verseker dat jy ’n presiese kopie van die fotomontage kry. Hou jou potlode skerp en onthou om nooit die potloodmerke te smeer om ’n sagter effek te kry nie. Jy moet leer om jou potlode te beheer om sagter teksture te skep en te teken. Die enigste instrumente wat jy hier mag gebruik, is potlode en ’n uitveër. Fokus daarop om merke van gehalte te maak! Kan jy nog die merkmaak-biblioteek onthou wat jy in graad 10 geskep het? Indien jy nog onseker is, kan jy ook Kwartaal 1 se tekenprojekte raadpleeg wanneer jy met verskillende merke eksperimenteer om verskillende teksture te skep.
STAP3 Wanneer jy met jou tekening tevrede is, maak ’n fotokopie daarvan. Indien moontlik is dit raadsaam om ’n kopie op ’n beter gehalte papier te maak, verkieslik 160 – 205 mg.
As dit ’n probleem is, gebruik die volgende voorstel: maak ’n fotokopie van goeie gehalte van die tekening. Plaas die kopie in jou visuele dagboek as rekord van die swart-en-wit-tekening. Gebruik nou die oorspronklike tekening vir die byvoeging van sepia.
AFDELING3 Plakkaat in sepia
Gebruik ’n verdunde mengsel van swart en bruin ink om tonale waardes te skep en die ou antieke of sepia-gevoel te verkry. Houtvernis met ’n waterbasis en antieke glasuurverf of skoenpolitoer wat met terpentyn gemeng is, tee, koffie of sojasous kan ook as jou inkmedium gebruik word. Eksperimenteer met ’n paar daarvan om die verskillende visuele effekte te sien en met die medium vertroud te raak. Gebruik goeie waterverfkwaste of oorstokkies of vere. Die voorbeeld regs gee vir jou ’n goeie idee van hoe jou eindresultaat kan lyk.