1. Vir hierdie projek moet jy ’n plakkaat ontwerp waar jy ’n kombinasie van woorde (met betekenis) en ’n collage-tegniek gaan gebruik om ’n spesifieke boodskap oor te dra.
2. Soek eers ’n kwessie wat jou na aan die hart lê. Dit kan enigiets wees van die toestand van die haweloses, weggooidiere of gesinsgeweld tot enige ander maatskaplike of omgewingskwessie waarmee jy jou kan vereenselwig. Aangesien jou boodskap een van hoop kan wees, hoef dit nie hartseer te wees nie. Jy kan ook jou plakkaat as kommunikasiemiddel gebruik om mense bewus te maak van ’n probleem waarvan hulle moontlik nie bewus is nie.
3. Soek nou na ’n aanhaling deur iemand wat oor die onderwerp gepraat het en wat jou standpunt oordra. As die onderwerp wat jy gekies het byvoorbeeld handel oor armoede en honger in die arm gemeenskappe in ons samelewing, kan jy die woorde van Moeder Theresa gebruik om jou standpunt te verduidelik. As jy jou kwessie ken en jou daarmee vereenselwig, kan dit jou help om ’n sterk aanhaling te kry wat oor die kwessie handel. Die aanhaling kan kom van ’n politikus, humanis, geestelike leier, ’n onderwyser by jou skool, ’n vriend of familielid of enigiemand met ’n insigvolle en motiverende mening oor hierdie kwessie.
4. Voordat jy begin, onthou asseblief die volgende: Die belangrikste ding wat jy in ag moet neem gedurende hierdie projek is die TOEPASLIKE gebruik van letters. Selfs al is hierdie ’n collage, sal dit steeds ontoepaslik wees om letters met hartjies, of prettige lettertipe te gebruik as jou aanhaling oor onderwerpe soos verkragting, kindermolestering of oorlog handel.
5. Trek ’n rooster op ’n A3-vel papier; die blokke moet ongeveer 40–50 cm vierkante wees. Laat ongeveer 20 mm aan die onderkant van die papier oop. Jy sal later sien waarom. Jy kan landskap- of portretformaat gebruik.
6. Wanneer jou rooster gereed is, skryf die aanhaling met potlood in die rooster – een letter per blokkie. Probeer om die woorde te spasieer sodat hulle eweredig oor die rooster versprei is. Kyk na die voorbeeld op die vorige bladsy. Daar is dikwels geen spasies tussen die woorde nie. Dink jy dit maak ’n verskil? Dink jy dit het meer impak as gevolg van die probleme wat dit skep vir die persoon wat dit moet probeer lees? Jou potloodwoorde is slegs vir plasing. Moenie te veel tyd bestee om dit netjies te doen nie. Jou collage van letters sal dit gou bedek.
7. Jy het nou jou eie idee vir jou plakkaat, gevul met blokke en letters. Jy moet nou voorbeelde van hierdie letters soek om in elke blok te plak. As een blok dus met ’n “r” gemerk is, moet jy ’n “r” in ’n tydskrif soek sodat dit op die regte plek geplak kan word. Voordat jy enige letters plak, hou in gedagte dat jy as ontwerper werk en dat jy aandag moet gee aan balans, kleurbalans en al die ander ontwerpbeginsels wat jy tot dusver geleer het. Jy wil nie al die oranje letters in een hoek hê, of al die “swaar” letter wat groot en vet is aan die bopunt nie. Versprei die gewig en kleur totdat jy jou collage as ’n gebalanseerde geheel voltooi het.