294 MODULE 4: KWARTAAL 4 – Produkontwerp en bruikbaarheid
3. Die Industriële Revolusie
Gedurende die laat 18de en vroeë 19de eeue het veranderinge in landbou, vervaardiging en vervoer ʼn reuse impak gehad op die sosio-ekonomiese en kulturele toestande in Brittanje. Hierdie periode is die Industriële Revolusie genoem. Die veranderinge het vinnig deur Europa en Noord- Amerika en uiteindelik die wêreld versprei. Hierdie proses, wat industrialisasie genoem word, duur vandag nog voort.
Die Industriële Revolusie, deur die uitvinding van masjiene en die onstaan van fabrieke, het die menslike gemeenskap heeltemal verander en het ʼn impak op baie aspekte van die alledaagse lewe gehad. In die laat 1700’s is die ekonomie van Groot Brittanje, wat altyd op menslike arbeid gebaseer was, deur masjiene vervang. Die tekstielindustrieë was gemeganiseerd, en die gebruik van geraffineerde steenkool en stoomkrag (vir masjinerie en die spoorweg) het toegeneem. Tegnieke vir die maak van yster (vir masjiengereedskap en verbeterde produksie) is verfyn en het ontwikkel. Die telegraafsisteem het veroorsaak dat inligting hul bestemmings gouer bereik het. ʼn Vervoersisteem, grootliks gebaseer op stoomkrag, het tot gevolg gehad dat goedere oor groter afstande teen laer koste afgelewer kon word.
Voor die Industriële Revolusie is die meeste goedere deur vakmanne met die hand geskep. ʼn
Vakman het die hele proses geken om ʼn produk te skep.
So het elke skrynwerker byvoorbeeld
geweet hoe om ʼn stoel van begin tot einde te maak. Met die aanvang van die Industriële Revolusie is die maak van ʼn produk opgebreek in baie stappe, waar elke stap deur ʼn ander persoon gedoen is.
In die geval van die houtstoel het
een persoon moontlik die pote gemaak, ʼn ander die sitplek en nog een die armleunings en rug. Al die dele is dan na nog ’n mens gestuur wat dit aanmekaar moes sit. Die voordele was dat individuele take vinniger herhaal kon word as wanneer een persoon alles van begin tot einde moes doen.
In die vervaardigingsisteem was individuele werkers dus verantwoordelik vir slegs ʼn deel van die voltooide produk en dit het tot gevolg gehad dat goedere by winkels meer bekostigbaar was. Dit het verskil van vroeëre praktyke waar iemand met die nodige vaardighede met rou materiale begin het en alleen deur die hele kreatiewe proses gewerk het. Dit het tot gevolg gehad dat mense goed by winkels gaan koop het eerder as om dit self te maak. Dit het natuurlik die verbruik van goedere laat toeneem.
Die Eerste Industriële Revolusie, wat in die 18de eeu begin het, het ineengevloei met die Tweede Industriële Revolusie in ongeveer 1850, toe tegnologiese en ekonomiese vooruitgang momentum gekry het met die ontwikkeling van die stoomboot, spoorweë en later in die 19de eeu met die binnebrandenjin en elektriese kragopwekking.
Het jy geweet... sommige historici meen dat die drukpers die model vir gestandaardiseerde massaproduksie was? Stem jy saam? Historikus Lewis Mumford het voorgestel dat die Industriële Revolusie sy oorsprong in die vroeë Middeleeue gehad het. Hy het gemeen dat die “argetipe model vir die industriële era die klok was.” Volgens hom was die monistiese klem op orde en tydhou, asook die feit dat Middeleeuse stede ’n sentrale kerk met gereelde klokgelui gehad het. Dit was die nodige voorlopers tot ’n groter sinchronisasie wat noodsaaklik was vir latere, meer fisiese manifestasies soos die stoomenjin.