• Horisontale en vertikale lyne gekombineer, kan stabiliteit en vastigheid verteenwoordig. • Duidelik gekromde lyne kan onstuimigheid uitbeeld. • Saggekromde lyne kan gemak, veiligheid en ontspanning voorstel. • Beskrywende lyne/buitelyne of kontoerlyne definieer rante en gee vorms weer. • Sensitiewe kontoerlyne kan selfs gewig, volume en vorm weergee. • Arsering en kruisarsering van individuele lyne skep skaduwees en tonale waardes wat ’n 3D-kwaliteit aan ’n vorm gee. Om die getal lyne te vermeerder, sal ’n donkerder toon skep.
• Herhaling van lyn gee ’n dekoratiewe element aan ’n ontwerp en kan dus ook ritme en beweging voorstel.
9 PROJEK Waarnemingslyntekeninge
Kies enige drie voorwerpe as onderwerp vir hierdie tekenaktiwiteit: voorbeelde is ’n skoolskoen of enige ander skoen met veters; ’n botteloopmaker; blikoopmaker; eierklitser; oopgesnyde soetrissie; enige ander kombuisgereedskap; toerusting of gereedskap wat jy in die hande kan kry. Dit is belangrik om ’n voorwerp te kies wat ’n verskeidenheid teksture en detail het. Kies ten minste drie voorwerpe om te teken en oefen die volgende:
• Kyk noukeurig na jou drie voorwerpe en besluit van watter hoek af jy hulle wil teken. Let daarop dat jy drie verskillende hoeke vir elke voorwerp moet kies vanwaar jy dit gaan teken. Jy gaan met ander woorde uiteindelik ’n totaal van nege tekeninge maak.
• Onthou: dis belangrik om te oefen om meer tyd te bestee om na die voorwerp te kyk terwyl jy teken, as na die papier waarop jy teken.
• Werk rustig, moenie die tekeninge afjaag nie, anders sal jy nie noodsaaklike waarnemingsvaardighede ontwikkel nie. Probeer om ten minste drie minute aan elke lyntekening te bestee. Let daarop dat om ’n kam te teken, minder tyd kan neem as om ’n skoen of ’n haardroër te teken. Dit was in elk geval nie die idee om ’n eenvoudige voorwerp te kies nie – moet dus nie nou lui raak nie!
• Terwyl jy al die besonderhede van jou voorwerp waarneem, let ook op hoe die lig op die voorwerp val en waar jy skaduwees en donkerder areas sien. Probeer nou om jou beheer oor die gebruik van jou potlood/pen/tekeninstrument te manipuleer. Druk sagter op jou potlood/pen wanneer jy ’n deel van die voorwerp teken wat baie lig ontvang en ligter en helderder lyk. Die teenoorgestelde geld wanneer jy ’n lyntekening van ’n donkerder skadugedeelte doen. Druk harder op jou tekeninstrument sodat jy ’n donkerder lyn kan teken om aan te dui waar die skadugedeeltes is.