Memphis was een van die groot religieuse stede in Egipte. Dit yslike standbeeld van Ramses, wat omgeval het, het ’n cartouche in die skouerarea ingekerf.
Van hiërogliewe tot hiëratiese skrif
Benewens die godsdienstige doel om vir die gode die stories van die oorledenes te vertel, het skrif ’n baie belangrike administratiewe funksie in antieke Egipte gehad. Rekords moes gehou word van kosvoorrade, handels- en ander inligting wat met ’n georganiseerde samelewing verband hou. Formele hiërogliewe wat vir godsdienstige doeleindes gebruik is, het baie lank geneem om in die klip uit te kap of op *papirus te teken, en was nie baie bruikbaar vir die daaglikse behoeftes vir skryfwerk nie. Die hiëratiese skrif (afgelei van die Grieks vir “priesterlik” ) het ongeveer 1500 v.C. ontwikkel en was ’n eenvoudiger stelsel wat vir alledaagse religieuse skryfwerk gebruik kon word. Tussen 650 en 400 v.C. het ’n streeksinterpretasie van hiëratiese skrif genaamd demotiese skrif (ook ‘sekh shat’ genoem) ontstaan wat selfs eenvoudiger was en vir daaglikse doeleindes en administratiewe dokumentasie gebruik is.
Die ontwikkeling van Egiptiese skryfstyle wat makliker was om te gebruik, toon dat die belangrikste deel van skryf die betekenis is en die gemak waarmee jy kan kommunikeer. Hiërogliewe is egter nie die maklikste stelsel om te verstaan nie. Teen die tyd dat argeoloë voorbeelde van hiërogliewe ontdek het, het ons die vermoë om dit te lees heeltemal verloor. Namate die hiëratiese en demotiese skrif gewilder geword het, het die gebruik van hiërogliewe minder gewild geword, tot dit uiteindelik verdwyn het. Ons het jare lank geglo dat ons nooit die boodskappe wat op antieke Egiptiese grafte uitgekerf of op papirusrolle geskryf was, sou kon lees nie. Gelukkig vir ons is ’n swart steen met hiërogliewe, Egipties, demoties en Grieks daarop in 1799 in Rosetta gevind. Jean-Francois Champollion het in 1822 die sleutel ontdek vir die ontsyfering van hiëroglief-inskripsies op die steen, wat as die “Rosettasteen” bekend geword het. Uiteindelik kon argeoloë en taalkundiges die geheim van hierdie vroeë beskawing aan die bopunt van Afrika blootlê.
* Papirus: ’n Dik, papieragtige stof wat van die binnekant van die papirusplant se stingel gemaak is.