STAP5 Ontwerp ’n stel van vier poskaarte wat verskillende menslike emosies soos woede, vreugde, hartseer, weerspieël.
Poskaarte is A6-grootte en jy kan dit in landskap- of portretformaat gebruik. Kies verskillende dele van jou pragtige ontwerp wat jy glo die emosie uitdruk wat jy gekies het en sny die beeld. ’n Baie besige gedeelte met skerp hoeke in jou ontwerp kan net sowel WOEDE kommunikeer!
Wanneer jy hierdie poskaarte ontwerp, onthou dat jy ook letters moet insluit. Jy moet vir hierdie projek spesifiek ’n styl kies wat die betrokke menslike emosie uitbeeld. Raadpleeg weer Module 1 as jy hulp nodig het en ontwerp ’n poskaart vir elke emosie.
Probeer om te hou by die lettertipes wat die stilistiese eienskappe van die Art Deco-styl weerspieël en gebruik die gewig van die tipe, die hoek van die plasing ens. om die betekenis van die woord aan te dui. Kyk na die voorbeeld as jy nie seker is nie. “Woede” word uitgebeeld deur die baie vetgedrukte lettertipe wat met ’n skerp hoek geplaas is en baie min ruimte tussen die letters het, maar die lettertipe is eenvoudig ontwerp met reguit lyne en geen versiering of detail nie.
Teken nou die vier poskaarte netjies op A3-papier . Al vier behoort op een bladsy te pas, maar maak seker dat jy hulle effens weg van mekaar plaas om elkeen ’n bietjie “asemhaalruimte” te gee. Gebruik jou vorige kennis om op die lettertipe te besluit – een per emosie – en voltooi saam met ’n paar fotokopieë van tekeninge van die gekose gedeelte van jou hoofontwerp, die poskaarte wat elke emosie voorstel. As ’n ontluikende ontwerper moet jy nie vergeet om van die basiese ontwerpbeginsels gebruik te maak nie.
Aangesien jou poskaarte verskillende emosies voorstel, kan hulle beslis nie eenders lyk nie!
Verdere toepassings van jou oorspronklike ontwerp sal altyd moontlik wees. Verbeel jou dat jy ’n paar blokke van jou oorspronklike ontwerp kan neem en ’n reeks afsonderlike kussings maak, of die patroon kan herhaal en op ’n tafeldoek gebruik.
Net jou eie verbeelding kan jou terughou!
Hier is ’n voorbeeld van ’n poskaartontwerp waar die afsnyding van die ontwerp gebruik is om ’n emosie oor te dra.